Wednesday, 23 July 2014

Wie se Jeugdag is dit nou eintlik?

Tydens verlede  jaar se Jeugdag-vieringe in Newcastle in KwaZulu-Natal het die voormalige Minister van Kuns en Kultuur, Paul Mashatile, ’n krans gelê op die grafsteen van Siphiwe Zuma, eertydse president van die South African Student Congress.
Siphiwe is in 2002 op die ouderdom van 23 oorlede.
In sy kort toespraak, het Mashatile gesê: “Vandag is ’n belangrike dag waartydens ons gevalle helde uit die struggle soos Siphiwe onthou.”
Dit is sulke woorde wat my soms rooi onder die kraag laat. Ek is seker Siphiwe Zuma was geliefd en belangrik vir sy vriende en familie, maar om hom tydens amptelike Jeugdag-vieringe uit te sonder vir “sy rol tydens die struggle” is blote propaganda.
Jeugdag is veronderstel om die heldhaftige dade van die talle studente wat op 16 Junie 1976 en daarna dood is, te herdenk. Siphiwe was nog nie eers in 1976 gebore nie. Hy was skaars tien jaar oud toe oudpresident Nelson Mandela uit die tronk vrygelaat is.
Hy was net so min deel van die “struggle” as wat ek was.
Waarom onthou ons nie meer die skoolgaande jeug op Jeugdag nie? Waarom het hierdie dag in niks minder ontaard as ’n politieke spreekbuis waar politieke partye nie net fokus op die verkeerde ‘helde’ van die struggle nie, maar ook op die verkeerde ouderdomsgroep?
Politici het duidelik vergeet wat die woord ‘jeug’ beteken. Let bietjie op wie fokus President Jacob Zuma in elke droë Jeugdag-toespraak. Sy pleidooi teen alles van dwelms, gangsterisme tot onmoontlike beloftes van werk, geluk en blydskap vir die “jeug van vandag”, is totaal en al nie gemik op die “jeug van vandag” nie.
Myns insiens is die jeug beslis nie elke Jan Rap en sy maat onder die ouderdom van 30 nie. Op 24 is ek net so min deel van die jeug as my ouma van 83. Op hierdie ouderdom is ons alreeds volwassenes.
Volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal beteken “jeug” die toestand en tydperk van jonk wees; die tydperk tussen puberteit en volwassenheid.
Dus nie jou drie-en-twintigjarige dwelmverslaafde werklose nie.
Daarom wil ek vra: gee Jeugdag terug vir die jeug. Gee dit terug vir die jongmense, die tussen-tien-en-agtienjariges. Gee dit terug vir die kinders van 1976.   
In stede daarvan om massa byeenkomste te reël waar jong volwassenes gemaan word om minder te drink, te rook en te kafoefel, help die land se tieners eerder met daardie goed wat hulle lewens in die nou kan verryk.
Hier dink mens aan alledaagse vaardighede soos hoe om ’n kamera te gebruik of hoe om te swem en vis te vang. Leer kinders perdry. Leer hulle die belangrikheid van oefening, spanbou en gesonde kompetisie.
In stede van massa byeenkomste waar ’n kind gelok word deur ’n bord kos vir ’n dag, help hulle eerder om die nodige vaardighede te bekom om later in hul lewens self te weet hoe om ’n bord kos te voorsien.
Opvoeding kan ’n kind net so ver bring. Om te weet hoe die chemiese samestelling van salpetersuur daarna uitsien is goed en wel, maar wat van vaardighede in menswees?
Benut die naweek rondom Jeugdag beter. Reël werkswinkels waar daar met tieners op ’n persoonlike vlak omgegaan word.
Verduidelik aan tiener seuns en meisies wat die gevolge van seks inhou. Vertel hulle watter veranderinge aan ’n meisie se liggaam plaasvind wanneer sy swanger raak. As hulle die gevolge verstaan, sal dit hulle eerder weerhou daarvan om die dade onverantwoordelik te pleeg.
So volgende keer, in plaas daarvan om die fokus opnuut te laat val op daardie sukkelende jong volwassene in sy twintigs, weet dit: hulle is oud genoeg om vir hulself te sorg.

Kyk eerder weer na die jeug, die ware jeug, en besorg Jeugdag terug aan hulle. Dit is waar die verskil gemaak kan word.  

Wipwaentjierit oor die tydsgrens heen

X-Men: Days of Future Past: Aksie/Fantasie; Regie: Bryan Singer; Spelers: Hugh Jackman, James McAvoy, Michael Fassbender, Jennifer Lawrence, Patrick Steward, Ian McKellen; Ouderdomsbeperking: PG-13 V; Speeltyd: 131 minute.
«««««««««
Skaars tien minute ná die openingstonele van X-Men: Days of Future Past begin daar ʼn besef by die kyker posvat – in die wyse woorde van Professor Xavier: “This is some future-shite.”
Dis ʼn glibberige pad volop duwweltjies wanneer ʼn fliek kies om tussen tydlyne rond te spring. Days of Future Past vat dit nog ʼn stappie verder. Buiten die tydspronge tussen die hede en verlede, spring dit ook rond tussen die storielyne van die ses vorige films in hierdie ongelooflik suksesvolle reeks.
Chronologies is Days of Future Past gelyktydig ʼn opvolg van 2011 se X-Men: First Class, sowel as 2006 se X-Men: The Last Stand. Stilisties is dit egter anders as enige van dié twee voorafgaande toevoegings.
Dis soortvan ’n hibriede kombinasie tussen Inception (storie binne ’n storie) en The Terminator (die toekoms wat met die verlede verstrengel raak), maar steeds X-Men in hart en siel.
Kortom: dis 2023 en die einde van die wêreld soos ons mutant vriende, Professor Xavier (Patrick Steward), Magneto (Ian McKellen), Wolverine (Hugh Jackman) en vele ander dit ken. Die wêreld is oorgeneem deur futuristiese monsters genoem “Sentinels”.
Ná Mystique (Jennifer Lawrence) ʼn goedbedoelde, maar ernstige oordeelsfout in die 1970’s begaan, gee dit aan wetenskaplike en mutant-hater Bolivar Trask (Peter Dinklage) die kans om haar DNS in sy Sentinels te gebruik.
Aangesien Mystique van voorkoms kan verander, beteken dit hierdie monsters kan nou ook. Trask het hulle geprogrammeer met net een doel: maak alle mutants dood.
So vanuit die toekoms stuur ouer Xavier en ouer Magneto vir Wolverine terug na die verlede om jonger Xavier (James McAvoy) en jonger Magneto (Michael Fassbender) te oorreed om saam vir Mystique te keer. Die twee is mos aartsvyande, onthou.
Wat volg is ʼn wipwaentjie-rit tussen die hede en die verlede met ou en nuwe karakters vanuit al die voorafgaande films wat verrassende verskynings maak.  
Die regisseur van die eerste twee X-Men-prente, Bryan Singer, maak ook meer as ʼn dekade later weer sy buiging agter die lens.
Net soos in X2 maak Singer ook hier puik van sy spelers gebruik, beide die gevestigde gunstelinge soos Wolverine en nuwelinge soos Quicksilver (Evan Peters).
Hy weet hoe om die emosionele band tussen die karakters binne die groter prentjie en tussen die tydlyne deur fyn te balanseer.  Ons gee regtig om wat met elkeen gebeur.
Die vermenging van historiese waarhede binne die komplekse storielyn is ook verfrissend en lekker om na op te let. President Richard Nixon (Mark Camacho) speel byvoorbeeld ’n sleutelrol in die aksie.
Singer laat die 1970’s weer cool lyk.
In sy weergawe word die verlede ook graag herskryf, soos wanneer ’n reuse bofbalstadion kaplaks die Withuis omring en Nixon binne vaskeer.
Die film is propvol sulke aksietonele. Dit is baie keer Singer se fyn aandag aan tydruimtelike detail wat beïndruk en so die spronge tussen tydsones duideliker aan die kyker maak. 

Slotsom: liefhebbers van dié genre, wees gerus. Ongeag die toekoms of die verlede, die tyd vir X-Men: Days of Future Past is beslis nou. 

Soos die perd wat dagga gevreet het

Chris Hunsinger is opgewonde oor sy nuwe rol as DA-parlementslid vir die volgende vyf jaar. Hy vertel vir Petrus Malherbe oor die uitdagings wat hom in die gesig staar, hoe hy dit persoonlik sowel as professioneel hanteer, sowel as waar sy politieke aspirasies en drome vandaan kom.
Vanaf sy huis se ruim stoep op die buitewyke van Malmesbury, kan pas-aangestelde DA-parlementslid Chris Hunsinger nie juis die teerpad sien wat wyd oor die Swartland in die rigting van Kaapstad kronkel nie. Maar hy hoef ook nie. Hy weet presies hoe dit loop; elke kontoer en draai ken hy immers, want vir iemand soos hy – wat die sowat 70 kilometer stad toe daagliks heen-en-weer moet aanpak – kan dit nie anders nie.
“Ry is die maklike een! Dis die balansering van familie- en werk-tyd waar die moeilikheid lê. Sien, as politikus verloor jy die aanspraak op jou eie tyd. Jy raak as’t ware die publiek se besitting.”
Ek vra hoe sy vrou, Karen, dit hanteer.
“Moeilik. Vir ons is dit maar ʼn spanpoging. My vrou en familie verstaan hoekom ek so gereeld van die eettafel af moet opstaan en in my kar klim en êrens heen ry. Bloot omdat dit noodsaaklik is op daardie dag. Die telefoonoproep kom in, en dan moet ek weg wees.”
Politiek is Chris se lewe. Hy is alreeds aktief daarby betrokke lank voordat hy opgekommandeer was om diensplig te verrig.
“Dit was die 1980’s gewees. Ná matriek het ek eers gaan studeer.”
Aan Stellenbosch?
“Natuurlik, waar dan anders?” antwoord hy trots.
“In my studentejare het ek betrokke geraak eerstens by die United Democratic Front en later by die Nasionale Demokratiese Beweging.”
Beide hierdie partye was deel van die oorkoepelende anti-apartheidsbeweging van die vroeë 1980’s. Die UDF is destyds deur Alan Boesak begin met ander bekendes soos aartsbiskop Desmond Tutu, Albertina Sisulu en Helen Joseph wat leierskapposisies beklee het.
“Ek het vir Wynand Malan in 1983 gevolg toe hy die Nasionale Demokratiese Beweging begin het. Malan het weggebreek van die heersende Nasionale Party om die NDB te vorm. Ek is toe aangestel as dié party se provinsiale leier van die jeugvleuel.”

ʼn Komplekse reeks gebeure volg en Chris sukkel self om die tydlyn na soveel jaar weer uit te pluis.
“Wag, laat ek nou eers my datums agtermekaar kry. Malan stig toe die NDB, ja. Denis Worrall stig toe die Onafhanklike Party en die twee partye het, tesame met die Progressiewe Federale Party van Colin Eglin deur die loop van die 1980’s polities links van die NP gestaan.”
In 1989 sou hierdie drie partye saamsmelt om uiteindelik die voorganger van vandag se Demokratiese Alliansie, die Demokratiese Party, te vorm. Zach de Beer en Tony Leon het uit die bresse getree as leiers van die DP.
“Maar toe trou ek – jonk, sommer op 21. En die verantwoordelikhede van ʼn getroude lewe kry toe voorkeur, want in daardie jare het jy nie vergoeding gekry as jy net ʼn politikus was nie.”
Chris en Karen is in 1983 getroud. Hulle het twee kinders. Karen is ’n maatskaplike werker.
Tussendeur kinders grootmaak en sy eie bouhandel-besigheid bestuur, het Chris steeds ʼn groot gedeelte aan sy politieke droom afgestaan.
“Dit was soos my stokperdjie. Ek was deurentyd betrokke by die Swartland-munisipaliteit op ʼn wykskomitee-vlak, totdat ek my besigheid verkoop het en ʼn voltydse makelaar geraak het.”
Finansies en finansiële-bestuur is onlosmaaklik deel van Chris. As raadslid van die Swartland-munisipaliteit se Uitvoerende Burgemeesterskomitee sedert 2011, was hy verantwoordelik vir ekonomiese ontwikkeling en finansies. Later het hy as provinsiale voorsitter van SALGA (South African Local Government Association) ook die verantwoordelikheid van munisipale bestuur gedra.
Sy posisie as raadslid het hom die geleentheid gegee om binne die kwessie van ’n jaar van een belangrike posisie binne die DA na die ander te spring. Vir ’n leek soos ek verduidelik Chris op ’n briljante wyse hoe ’n politikus vooruitgang maak nie net in sy loopbaan nie, maar ook binne sy party.
 “Jy moet altyd die metafoor van ’n treinspoor oproep. Die een spoor is die politieke spoor, te wete die funksionering van die politieke party waarin jy is. Op hierdie spoor het jy sekere posisies en strewes. Parallel daaraan loop die spoor van jou loopbaan, die kant waarop jy funksioneer as Raadslid, as Parlementslid. Die uitdaging is om hierdie twee bane te balanseer. Sommige fokus so aan die loopbaan kant, dat hulle nie meer aktief binne die party is nie en dan val hulle uit.
“Elke vyf jaar is ons almal basies weer werkloos. As ons nie gefokus binne die party bly nie, kan ons ons posisies kwyt wees.”

Chris is baie beskeie oor sy prestasies. Die twee bane van sy treinspoor het in die jare 2011-2013 bykans perfek gebalanseerd geloop. Nie net het hy vordering op ’n plaaslike vlak as raadslid gemaak nie, maar binne die DA is hy 2013 gekies om die verkiesingsveldtog te bestuur vir die hele westelike gedeelte van die Wes-Kaap.
“Dit was ontsettend uitdagend gewees,” vertel hy. “Ons het ’n doelwit gestel van 230,000 stemme uit hierdie streek en het uiteindelik 216,000 daarvan gekry.”
Die harde werk en beplanning het op meer as een manier vrugte afgewerp. In dieselfde tyd wat hy die verkiesingsveldtog bestuur het, het Chris die ellelange nominasie-proses deurgemaak om op die DA se parlementêre-kandidatelys te verskyn.
“Die proses is uitmergelend. Jy gaan deur vyf verskillende stadiums van evaluasie. Van aansoekbriewe, onderhoude, tot drie groot eksamens...”
Eksamens? Regtig?
“Ja! Ten minste in die DA skryf ons! Nie so seker van ander partye nie,” lag Chris. “Jy moet die federale en nasionale grondwet van bo tot onder ken, sowel as ’n goeie algemene kennis hê.”
Daarna volg die uitdunne. ’n Totaal van 1434 aansoekers wat die eerste eksamens en onderhoude geslaag het, word afgeskaal tot 340 kandidate: 40 op provinsiale vlak en 300 op nasionale vlak.
 “As jy gelukkig genoeg is om die finale lys van 300 op nasionale vlak te haal, word jy verder gepeper met agt onvoorbereide vrae wat jy voor ’n paneel van die DA se top-bestuur moet beantwoord.”
Chris het uiteindelik 71ste op die DA se finale kandidatelys geëindig. Die DA het 89 parlementêre-setels in die verkiesing gewen.
“Ek moet sê dat ek nogal baie beïndruk was. Nie net met die deursigtigheid van die proses nie, maar nou dat ek in die posisie [van parlementslid] is, sien ek ook watter uitstekende span ons saamgestel het. Daar is ’n enorme verbetering in die kwaliteit van persoon en verteenwoordiging van die deursnee Suid-Afrikaner.”
Ek vra hom uit oor sy eerste week as Parlementslid.
“Dit het so vinnig verbygegaan. Van die eedaflegging totdat ons opgevlieg het Pretoria toe vir die President se inhuldiging. Baie greet and eat, jy weet, nie veel werk nie.”

Ná sewe dae van parlementêre-oriëntasie sal Chris hoor op watter portefeulje hy gaan dien.
Hy hoop om sy stempel verder af te druk in ekonomiese ontwikkeling, “maar ongeag, ek weet hoekom ek daar is. As lid van die DA, is ek ernstig oor die rol wat ons vervul as die opposisie. Ons sien onsself as die beskermers van die demokrasie.

“Daarom voel ek nou skoon soos ’n perd wat dagga gevreet het. Ek kan nie wag om te begin hardloop nie!”

Monday, 19 May 2014

Better broadband the key to media digitisation

The future of media in South Africa is set to remain in print and not digitally as long as the country doesn’t sort out its lacking broadband capabilities.
This was part of the message Esmaré Weideman, CEO of Media24, gave an intimate group of prospective journalist at the Maties Journalism Department yesterday.
Weideman spoke about the future of South African media with specific reference to both print media and the ongoing move to digital platforms.
“I don’t think we’ve lived in more exciting times,” Weideman started her talk, “good journalism is still just as important.”
She mainly focused on the changing role of the press today and how young journalists should learn to adapt to these changes.
“We constantly have to reinvent ourselves. You need to be able to do many things for many different platforms. Think concise. Think analytical. If you can’t take the heat, get out of the business.”
Even though she admitted that circulation of print media is on a downwards spiral, “it’s not the calamity many think it is. People still read newspapers”. That is why Weideman envisions a plan to “get ahead of the business of news” urging young reporters to follow suit.
The key to achieving this is to start thinking like businessmen by asking how you can present newsworthy information in more manageable and bite-sized chunks to consumers.
Despite insufficient broadband capabilities, Weideman is sure a clear and focused move to various digital platforms, like mobile applications and getting the news on tablet devices, is the way of the future.
Quoting legendary newspaper designer Mario Garcia, she said that the most important skill journalists can attain at university today, is how to be an excellent mobile news editor. According to statistics, online access to Media24’s various websites on mobile devices increased by more than 10% over the last year.
“Mobile editors and content creators constantly need to think what to do next to keep the increasing amount of traffic to these sites. Usefulness is key.”
However, Weideman conceded that without the proper improvements in broadband connectivity, the move to digital cannot commence at the “speed of light” she wants it to.
Arlene Prinsloo, Media24’s national online content coordinator of Afrikaans newspapers, supports this position: “The internet is way too expensive and on top of that too slow. People don’t want to click on links to articles and videos because their data is capped and it takes too long to load.

“At the moment it is not viable for journalist to undertake expensive trips with expensive gear and make a video that muster barely 200 views. From a business standpoint it does not make sense.” 

Sunday, 18 May 2014

Die niksseggende mymeringe van ’n nie-gelowige


Al die kontroversie tersyde wou Petrus Malherbe ’n eie opinie vorm oor waarom soveel mense elke Sondag na die Shofar-kerk op Stellenbosch stroom.
Hallo.
My naam is Petrus Malherbe en ek is ’n nie-gelowige.
Ten spyte van hoe dit klink, moet daar geensins gedink word dat ek nie in ’n huis van Christelike-waardes grootgeword het nie.
Geloof maak my net ongemaklik. Die idee van ’n God wat oor alles heers, weet wat ek doen en dink elke minuut van elke dag en voorskriftelik tug as ek iets in Sy oë verkeerd doen, staar my nie aan nie.
Daarom is ek al vir tien jaar ’n totaal apatiese, agnostiese aanskouer van geloof. Ek dwing nie my oortuigings af op ander nie. Ek bekyk hulle net van ’n afstand, en wonder gereeld: wat dryf dié mense elke Sondag kerk toe? Wat sien en hoor hulle daar wat hulle so vasgevang hou in gebed en geloof?  
In my soeke na ’n antwoord het ek op ’n pelgrimstog gegaan na die oorsprong van soveel kerklike kontroversie: die immergewilde Shofar-gemeente op Stellenbosch.
“Daar is mag in Sy woord, soos die waters druis Sy stem...”
Soos mens die Bloemhof-sentrum op Stellenbosch nader op ’n Sondag-aand skuins na ses, voel dit amper asof jy na ’n rock-konsert op pad is. Die skares dra net netjieser klere.
Daar is letterlik duisende mense wat op die massiewe saal toesak. Binne sien ek net ’n see van koppe, lywe en arms besig om te sing en te dans. Die Shofar-band weet duidelik hoe om ’n goeie show op te sit.  
Shofar was al meer in die nuus om al die verkeerde redes: aantygings van okkultisme, intimidasie en geldwassery en selfs dat hulle vir Inge Lotz laat vermoor het.
In 2007 het daar ’n herrie op die Stellenbosch Universiteitskampus losgebars toe Die Matie berig het dat sommige dosente die studente waarsku teen Shofar se sogenaamde “breinwassery”. Stories het rondgeloop dat Shofar-lede glo nie-lede indoktrineer om by die kerkgroep aan te sluit en hulle dan dwing om tien persent van hulle inkomste te skenk. Waarna nuwe lede stadigaan van hulle vriende en familie vervreem word en net binne die kerk nuwe vriendskappe en verhoudinge mag aanknoop.
Op hierdie Sondag-aand in 2014 het ek egter nie ’n Shofar-sekte aangetref nie. Daar was nie ritualistiese drag of kerse betrokke nie. Net über-gelowiges: daardie persone wat hande omhoog soos ’n Dervish rond warrel en sing. En die Shofar-band speel aan en aan en melk elke liedjie vir sy maksimum emosionele impak.
“Amen!” klink luid na elke lied op. Ek is beslis buite my gemaksone. Huiwerig begin ek om die woorde saam te neurie; my hande konfronterend oor my borskas gevou.
“Soos die son op die see se blou, so die Rykdom van Sy trou...”
Shofarians sal gou vir jou vertel hulle kerk is nie van die ‘net-elke-Sondag-variant’ nie. “Daar is die gemeenskapsprojekte en die uitbrei van die kerk se boodskap na verskillende landsdele (sogenaamde ‘church planting’), en dan natuurlik ook die reeks seminare en klasse wat jy kan bywoon,” vertel een van my Shofar vriendinne trots.
Dis die middel van die week en ek is by die Shofar-hoofkwartier in die Eikestad-winkelsentrum. ’n Groepie van sowat vyftien gelowiges – en ek – is byeen vir die eerste van drie ‘Encounter’-sessies wat die kerk (teen R10) aanbied om mense se geloof te versterk.
Die atmosfeer is plegtig, gelaai met ’n oordrewe gevoel van blydskap en samesyn. Elke persoon word verwelkom op sy of haar naam (ons moes vooraf bespreek) en daar word vriendelik gratis koffie en tee aangebied.  Ek hou verby.
Soos ek dit verstaan is die ‘Encounter’-sessies veronderstel om ’n inleidende lesing te wees tot geloof met ’n spesifieke fokus op “wat dit beteken om te glo”. Groot was my verbasing toe ek hier eerder ’n inkoherente reeks gesprekke deur gevestigde Shofarians aanhoor waarin daar geholpe probeer verduidelik word dat jou lewe geensins sonder totale oorgawe aan God kan funksioneer nie.
“Daar is ’n leemte in elkeen van ons,” verduidelik Marinette, terwyl sy duidelik met my oogkontak maak, “en ons kort die geestelike inspuiting vir daardie 180° ommeswaai.
“Daarom gee God jou die bonatuurlike vermoë om nee te sê vir daardie goed wat jou uiteindelik gaan verwoes.”
Wat bedoel sy met ‘bonatuurlike’ vermoë?
“Sodra God aan jou hart begin vat, sal jy meer wil begin hê. Dit is sy bonatuurlike liefde.”
Maar ek dog al hierdie mense is alreeds gelowig? Waarom hulle dan oortuig van God se liefde?
Herbie, geklee in ’n modieuse trui en langmoubroek begin ons te paai dat ons alles moet prysgee vir God ten einde ’n gelukkige lewe te kan lei: “Ons uitsluitlike doel moet wees om soos Jesus te wees: arm van vlees, ryk van gees.”
“Kom bly binne my vanaand, Jesus, kom was my skoon!” bid een van die kerkleiers, Sias le Roux, soos wat die verrigtinge tot ’n einde kom.
Hy draai skielik na ’n Wilgenhoffer in die voorste ry en kyk hom stip aan: “Zander, God sê vanaand vir my jy gaan nie lank lewe nie. Jy gaan nie 90 haal nie. Jy gaan ’n kort, gevulde lewe hê, just go with it...” Die knaap se oë rek nie eers nie, hy knik net sy kop tevrede.
“En aan U is die eer en die lof want U regeer...”
Dit is moeilik om ná tien jaar buite die kerk weer terug te keer na ’n gelowige omgewing sonder om inherent partydig te wees. Die doel van my besoek aan Shofar was egter nie om te kyk of ek oortuig kan word om weer te begin gelowig wees nie. Eerder wou ek weet hoe dié kerk sy boodskap oordra.
Tydens my tweede kerkbesoek het die charismatiese Shofar-leier en stigter, Fred May, die preek gelei. Fred is ’n persoon met ’n intense temperament. Sy boodskap word nie soveel oorvertel as oorgeskree nie. Hy maak seker jy hoor hom, én jy glo hom.
Ek het verstom in my stoel gesit en luister hoe hy teen een na die ander organisasie uitvaar as heidene wat daarop ingestel is met die uitsluitlike doel om die Shofar-kerk te verwoes.
“Gee my ’n Amen!” gil Fred. “Amen!” gil die gehoor soos skape agterna.
Fred koester wrokke.  Hy vaar luidkeels uit teen die Universiteit (“The whole program is designed to keep you out of church!”), Harry Potter (“This Harry Potter-generation wants to cast their spell on us!”), die internet (“Out to silent people like us!”), en geheime organisasies en koshuise se inlywings-praktyke (“In Wilgenhof they put you in a coffin, pierce your nipples and strangle you with a noose!”).
Ek vind Fred se preek aanvallend, opswepend en hy is heeltemal te gemaklik om sý weergawe van feite as die absolute waarheid op die groep af te druk. Hy maak die wêreld uit as ’n plek van geen individuele vryheid, waar niemand ’n besluit vir hom- of haarself kan maak nie, want alles is “in teenstelling met die wil van God!”

Toe Fred uiteindelik na ’n twee-uur-lange preek tot bedaring kom, was ek verlig om my oë vir gebed te kon sluit. Vreemd genoeg was dit steeds net die leë donkerte wat na my terugstaar.  Ek was geensins nader om te verstaan wat hier aangaan nie.        

Wednesday, 7 May 2014

Studente-kiesers kom stem kompleet met ’n eie pen

Lank staan net vir ’n leë, bederfde stembriefie? Wat wou!
Kiesers, hoofsaaklik van die Universiteit van Stellenbosch, wat gister hulle kruisies by die DF Malan-gedenksentrum getrek het, was duidelik gereed om seker te maak húl stem word in vanjaar se nasionale verkiesing getel.
Daarom het so baie kiesers met hul eie penne opgedaag.
Dit is gedoen na gelang van die gerugte wat landswyd versprei het dat die Onafhanklike verkiesingskommissie tydens die stemproses penne met “verdwynende ink” aan kiesers gee om hul kruisies mee te trek. As jy dié penne gebruik verdwyn jou merk na ’n rukkie. Enige leë stembriefie sal ongeldig wees. 
Sowat ’n week gelede het ’n epos onder Suid-Afrikaners begin sirkuleer waarin ’n ene Bruce Jenkins, glo vanjaar ’n beampte van die OVK, besluit het om die waarheid oor die penne te openbaar, “want ons lewe in ’n korrupte wêreld.”
In die ketting-epos maan Jenkins alle kiesers om hul eie pen te bring om te verseker hul kruisies verdwyn nie. In die tou buite die DF Malan-gedenksentrum kon etlike kiesers by navrae dadelik hul pen wys.
Unika Schonken en Maryke Wijma, beide studente aan die US, het genoem dat hulle nie net bewus geword het van die moontlike bestaan van die verdwynende ink vanweë die epos wat omgegaan het nie, maar ook omdat een van hul lektore dit spesifiek aan hulle genoem het.
“Dit is ’n verskillende ding as dit eers net ’n spam-epos is, maar as jou dosente sulke goed begin sê dan neem jy dit ernstig op,” het Schonken gesê.
“Dis Afrika dié, wie weet wat om te verwag?” het ’n ander student Daniel Jansen van Vuuren genoem terwyl hy aan sy BIC-pen vasklou. “Met hierdie meneer weet ek my kruisie blý op my stembriefie.”
Party kiesers was nie bewus van dié teorie nie en het inderhaas rondgeskarrel om hul eie skryfding te bekom. “Ek het nie hiervan geweet nie, maar nou is ek erg bekommerd. Dit is heeltemal moontlik in ons land,” het Olivia Anthony oor die saak gepeins.
In ’n verklaring laasweek het die OVK se media-skakelpersoon, Lydia Young, die gerugte as bog afgemaak: “Ons is nie bewus van enige insidente waar die merk op die stembriefie verdwyn het nie, so daar is geen rede vir kiesers om hul eie penne na die stemlokaal te bring nie.”
Liezl Louw van die plaaslike OVK-kantoor wou nie addisionele kommentaar oor die saak lewer nie.

Dit is nie die eerste verkiesing waarin gerugte van verdwynende ink gemaak word nie. Tydens die onlangse verkiesings in Zimbabwe en Egipte is beskuldigings rondgegooi dat sulke penne vanaf Indië ingevoer is. In die geval van Egipte was dit na bewering meer as 180 000 penne, berig The Witness.   

Sunday, 4 May 2014

Die toekoms van die media onder die loep

Dit is belangrik vir die regering om te belê in die diversifisering van die media ten einde die demokrasie van Suid-Afrika te bevorder.
Só meen Mark Weinberg, ’n aktivis van die Right2Know-veldtog wat hulself beywer om media vryheid in Suid-Afrika te behou.
Weinberg het tesame met Johanna van Eeden, redakteur van Volksblad, en Tim du Plessis, uitvoerende redakteur van Afrikaanse nuus by Media24, ’n intieme groep by die Departement Joernalistiek van die Universiteit van Stellenbosch op die vooraand van Nasionale Persvryheidsdag toegespreek.
Die fokus van die gesprek was 20 jaar van mediavryheid binne ’n demokratiese Suid-Afrika.
Weinberg voer aan dat dit die regering se verantwoordelikheid is om te belê in kleiner vorme van media, soos gemeenskapsradio en -koerante, sodat diverse vorme van media tot ’n diverse en florerende demokrasie  kan lei.
“Vandag gaan dit alles oor kommersialisasie,” voeg hy by. “Joernaliste werk vir al hoe minder geld en word stories gevoer deur die groot maatskappye waarvoor hulle werk, wat ʼn monopolie oor die mark het.”
Op ʼn stadium het Weinberg spesifiek verwys na Media24 as voorbeeld van hoe groot media-maatskappye nie behoort op te tree nie.
“Die regering moet sterker mededingingswette in plek stel. Groot maatskappye soos Media24 moet nie toegelaat word om meer as 40% van die mark te beheer nie.”
In ʼn onverwagse wending het Du Plessis saamgestem en gesê dit is nodig om te onthou dat die media in sy huidige formaat nie meer vir lank behoue sal kan bly nie, “want die besigheidsmodel laat dit eenvoudig nie toe nie”. Hy verlaat die einde van die maand sy pos by Media24.
Du Plessis is dit eens dat die toekoms van die media in Suid-Afrika binnekort afhanklik gaan wees van óf staats- óf filantropiese befondsing.
Weinberg het bygevoeg dat die vryheid van die media net behoue sal kan bly as “joernaliste se belange nie verstrengel raak met dié van die maatskappy waarvoor hulle werk nie”.
Volgens Van Eeden is dit verwant aan die kwessie van joernalistieke etiek: “Dit vorm die ruggraat van goeie joernalistiek. Daarom moet etiese gedrag nie as ʼn hindernis gesien word nie, maar eerder as ʼn hulpmiddel in goeie beriggewing ingespan word.”
Du Plessis het herhaal dat Suid-Afrikaanse joernaliste nie te selfvoldaan moet raak met die vryheid wat hulle nou het nie. “Die politieke speelveld is besig om te verander en die regering gee nie meer om oor die publiek se reg om vrye toegang tot inligting nie.”

Daarom moet joernaliste gereed wees om na ander platforms – soos die internet – te verskuif waar die regering nie soveel regulerende mag het nie, meen Weinberg.