Friday, 25 April 2014

Ganging up on movie violence

The graphic portrayal of gang violence in the new movie Zulu might just influence young children to become gang-members themselves. Petrus Malherbe digs deeper.
During a recent viewing of the yet to be widely released film Zulu, one theme stood out between all this movie tries to address: Cape Town is one hell of a violent place.
This French/South African co-production, directed by a Frenchman Jarome Salle and starring American actors Forrest Whitaker and Orlando Bloom, leaves the viewer with the idea that impulsive beheadings and drive-by shootings of shebeens leaving even the dogs dead, are normal for the Cape Flats.
The initial problem with foreigners coming to South Africa to tell a South African story is that it immediately makes you apprehensive of their intentions. Whitaker plays Ali Sokhela of the Cape Town Serious and Violent Crimes Unit. Bloom is his disgruntled partner, Brian Epkeen. Replete with mock Zulu-accents and a few words of Afrikaans, these two Yanks fully emerged themselves into the roles of hard boiled South African cops.
But there is a two-fold snag with this approach. Zulu is pumped full of gratuitous violence ranging from the exemplary shooting in the head to the odd case of one poor cop getting his hand chopped of by machete on Muizenberg beach. Only to have his head hacked with the same machete soon afterwards.
The plot of the movie is embroiled in the dark world of drug dealings on the Cape Flats. Although this world really exists much as depicted, Zulu openly exploits it to see how many violent scenes it can squeeze from it.
This sheer unpleasantness overwhelms whatever idea the makers of this movie tried to get across about living in a post-apartheid South Africa. Themes of redemption, acceptance and friendship get muddled in a sea of violence that’s forced into almost every scene.
But how big an influence does this film have on children – some perhaps even living in these gang-stricken areas of the Cape?
Film is truly the only art form that can attack our mood and senses on a real, stomach-turning level. The visceral impact of seeing someone being beheaded versus reading about it in a newspaper or book cannot be understated.
Therefore when a child watches Zulu, in his or her mind the violence being portrayed can be seen as real. It will affect their memories about what they know of how gangs operate in these areas of the Cape.
According to Muriel Johnstone, a social worker who works with children at a maternity hospital in Cape Town, the most important thing to remember with regards to violence on screen is that children are far more prone than adults to be influenced by it.
 “Children emulate the characters on screen,” she says. “They are likely to look at the action on screen, notice what they are doing and imbed that action into their minds as acceptable behaviour.”
When looking at media effects on its users, the authors of a study called Longitudinal Relations Between Children’s Exposure to TV Violence and Their Aggressive and Violent Behaviour in Young Adulthood argue that these effects are mostly, if not completely, felt by children rather than teenagers and adults. “Short-term effects can be felt by adults, but it is the more severe long-term effects that can only affect children. This includes children of all types and backgrounds.”
This is especially important to remember when one tries to understand the possible impact the violence in a movie like Zulu might have on a child growing up in a gang-stricken area or even elsewhere.
“What a child sees, it remembers,” explains Johnstone. “The most important thing to remember here is that it should be the responsibility of the parents to control what their children watches. Adult supervision is one of the best barriers guarding children from the unnecessary exposure to worlds they do not need to know about at that age.”
This is where, in South Africa, a governing body like the Film and Publications Board (FPB) comes into play. With a specific focus on protecting children from exposure to potentially disturbing, harmful and inappropriate materials, the FPB decides on advisory age guidelines for parents by giving each and every film released in South Africa an age restriction.
This phenomenon is nothing new. The practise of giving a film an age-restriction of, for example, sixteen does not stop the intended effect of that movie on the child, regardless if they are still younger than sixteen.
According to Anziske Kayster, a mother of two boys aged 4 and 12, it is almost impossible to keep your children away from violence even if you follow the FPB’s guidelines. “Take for example the movie Spider-Man,” she says, “it’s got a rating of PG-13, but in the movie Spider-Man still violently kills, maims and burns the bad guys. If I had not made my children understand that Spidey was the good guy, what type of message does this supposedly family friendly-film give?”
Like Johnstone, Kayster also feels that the main influence of movie violence on her children is that they want to emulate the actions of the ‘heroes’ on the screen. She talks about how her sons, after seeing Spider-Man, got into a mock fight with each other, both wanting to be the hero and not the bad guy in their make-belief re-enactment of the movie.
Although this is a rather trivial anecdote, the principle of the matter remains that the fine line between the portrayal of violence and being violent in real-life starts to blur.
A more heavy-handed example of this is the story of former child-soldier in war stricken Sierra Leone, Ishmael Beah. In his memoir A Long Way Gone, Beah writes how violent media was part of his training regimen.
Noah Berlatsky, in writing for The Atlantic, points out: “Rambo: First Blood, Rambo II and Commando were screened in constant rotation to encourage them in battle... [They] all wanted to be like Rambo and couldn’t wait to implement his techniques.” Beah recalls the incident wherein one of his friends snuck into an enemy camp and started to slit the throats of the guards. Just like Rambo would do.
Here violent films directly lead to real-life violence. Who’s not to say that Zulu might be used to the same effect to induce violence in children living in the gangster paradise of South Africa?
“I would definitely advise parents to fervently prevent their children from viewing such a film as Zulu,” says Johnstone. “There’s a high amount of danger in portraying such real life realities on a medium that can be widely accessible to easily impressionable children.”    
If through further studies violent media are conclusively found to cause real-life violence, a better form of implementing fair restrictions might be needed. It will not be fair to live in a society where the portrayal of violence in that society effectively leads to more real and consequential violence.    
According to Ster Kinekor, Zulu will be widely released after a preview at the Durban Film Festival in July.
  

Tuesday, 15 April 2014

Antoinette: Oor kokkerot, kaal en kwesbaar wees

“Dis nie seks nie, dis kopulasie tussen goggas...” Die vrese, uitdagings en aard van toneelspel kom onder die loep in ’n eerlike gesprek tussen Antoinette Kellerman en Petrus Malherbe

Sy staar stip na my met haar potblou oë en kondig ferm aan, net sodat ek weet: hierdie kantoor is haar persoonlike spasie; haar oase van kalm tussendeur die stormloop studente en ander verpligtinge. Ek gaan sit aan die oorkant van die lessenaar. Haar handdruk is ferm terwyl sy sê: “Hallo, ek is Antoinette Kellerman.”
Dit neem glad nie lank om op jou gemak te raak in die teenwoordigheid van hierdie teaterlegende en dramadosent nie. Sy gesels met jou soos ’n ou vriend wat oorgekom het vir ’n koppie koffie. Haar kantoor by die Universiteit van Stellenbosch se Dramadepartement is bedenklik chaoties. Stapels papiere word afgewissel met ’n gesonde dosis drama-tekste reg om gelees te word. Die vae reuk van sigaretrook bevestig haar aanvanklike aankondiging: hierdie is deur-en-deur háár skuilplek.
Antoinette is een van Suid-Afrika se mees gesogte en geliefde verhoogaktrises. Dié brawe vrou pak die gewigtige rolle aan. “Ek soek daardie teatertekste met vleis,” verduidelik sy. Dis glad nie vreemd as jy haar jaar-na-jaar, kunstefees-na-kunstefees sien in daardie rolle waaroor daar die meeste gegons word nie. “Ek is nie bang vir ’n uitdaging nie.”
Toneelspeel is in haar bloed. Nes soos suurstof en teenliggaampies funksioneer sy daarop: “As ek elke oggend kon gaan repeteer saam ’n geselskap en dit elke dag van my lewe kon doen, sou ek die gelukkigste mens op aarde wees, want dit is wie ek is. Dit klink verskriklik dramaties, maar ek sal léég raak as mens; ek sal niks hê as ek nie kan toneelspeel nie. Dit bly vir my absoluut die lekkerste ding in my lewe as ek na ’n repetisie toe kan gaan en kreatief kan omgaan saam met ander mense en ’n teks.”
Tog, na al die jare bly die proses van ’n nuwe stuk aanpak steeds vir haar uitdagend.
“Dit is die lekkerste ding in die wêreld, maar die vrees is altyd daar. Min toneelspelers het ’n oormaat selfvertroue. Jy weet die heeltyd dat jy maklik kan faal. Jy loop altyd op die cusp – die rand van afval. ’n Gehoor is ’n vreemde ding: jy weet nooit of die produksie suksesvol gaan wees en aanvaar gaan word nie. Jy volg jou regisseur, jy volg jou eie instink, jou eie intellek en hart; jy gee jou deel vir almal betrokke, maar jy is nooit oortuig van sukses nie.”
Antoinette en Gerben saam in Samsa-masjien. Bron: iol.co.za
Hierdie vrese was ook daar toe die nuwe Willem Anker teks, Samsa-masjien, amper drie jaar gelede op haar tafel beland het. “’n Groep van ons het die teks gelees en ek het baie daarvan gehou, maar ons kon nie befondsing daarvoor kry nie. Twee jaar het verby gegaan en eers verlede jaar Oktober het ek weer iets gehoor: die teks is aanvaar om by die KKNK opgevoer te word. Maar ek was moeg. Dit was die einde van die jaar; ons was ook besig met macbeth.slapeloos [’n Ander produksie waarby sy ook by die KKNK betrokke was.] en ek het nie geweet of ek albei sal kan hanteer nie.”
Samsa-masjien is ’n komplekse stuk waarin ’n bejaarde man genaamd Gregor Samsa gaandeweg ’n hallusinatoriese metamorfose ondervind waarin hy van ’n mens tot in ’n kriewelende kokkerot verander. Sy vrou, die rol wat Antoinette vertolk, besluit om saam met haar man op hierdie reis na ’n ander wêreld te gaan. Antoinette was aanvanklik skepties oor haar rol: “Ek is gek oor die teks, maar ek het nie kans gesien nie. Ek het gevoel ek kan nie; ek is te oud. Ek weet wat die teks vra, maar my lýf is te oud.”
Sy was eintlik terughoudend oor een spesifieke aspek van die Samsa-masjien teks. Die draaiboek het ’n groot hoeveelheid eksplisiete seks en naaktheid bevat. Beide haar karakter sowel as dié van Gregor Samsa sou vir ’n beduidende tyd naak op die verhoog wees.
“Ek wou dit graag saam met ’n spesifieke akteur doen met wie ek baie gemaklik is – want daar is sulke intieme oomblikke tussen ons karakters,” sê sy. “Dit het egter nie so uitgewerk nie.” Gerben Kamper, dosent aan die Universiteit van die Vrystaat, het uiteindelik die veeleisende rol van Gregor Samsa gekry. Beide Gerben en Antoinette moes gemaklik met mekaar raak om die seks- en naaktonele oortuigend te kon oordra.
“Ek het al eenkeer vantevore saam met Gerben gespeel [in Die Storm]. Ons het vir Jaco [Bouwer, die regisseur] gevra om ons kans te gee om mekaar beter te leer ken. Ons sal in ons eie tyd gereed wees en sodra ons is, sal ons daardie finale lyn oorsteek. Goddank Jaco het verstaan; hy het ons nooit forseer nie.”
Antoinette kyk skielik ernstig op. “Ek wou dit nie noem nie. Niemand anders het ooit (oor die naaktonele) geskryf nie. Ons was veronderstel om heeltemal naak te wees in die sekstonele – ek noem dit kopulasie, want dis nie regtig ’n sekstoneel nie. Dis eerder kopulasie tussen twee goggas, diere en mense. Dit verskuif die heeltyd. Ek praat nie graag daaroor nie. Ek en Gerben het byvoorbeeld geweier om onderhoude toe te staan omdat ons al twee gevoel het dit kan te sensasioneel raak.”
Daar is ’n toneel in Samsa-masjien waarin Antoinette se karakter haarself sonder ’n draad klere aan bad. Hoe het sy hierdie toneel geregverdig? “Storie gewys was dit absoluut noodsaaklik. Dis die rituele afwas van ’n lewe. Dis die ritualistiese bad; sy was die verlede af, sy was (haar man) af; sy was haarself skóón. Sy huil op daardie stadium, so sy was haarself eintlik met haar trane.”
Al was dit vreesaanjaend om kaal op die verhoog te wees, is sy oortuig daarvan die teks kon dit regverdig. “Naaktheid is net nog ’n kostuum wat jy aantrek. Ek doen dit regtig nie om te skok nie. Ek doen naaktheid net as die teks dit vereis. So as die dramaturg dit nie vra nie, dan doen ek dit nie.”
Samsa-masjien was ’n groot sukses by die afgelope KKNK. Dit is byvoorbeeld in die feeskoerant Krit beskryf as “iets tussen twee wêrelde”. Dit het ses Kanna-nominasies ontvang, waaronder een vir beide Antoinette en Gerben vir hulle spel.
Volgende jaar is Antoinette te sien in ’n post-apokaliptiese rolprent met onder andere Charlize Theron en Tom Hardy. Dit is ’n opvolg van die gewilde Mad Max rolprente uit die 1980’s. “Dit is my eerste fliek. Dit het sowat twee jaar terug in Namibië geskiet. Ek vertolk die rol van ’n ou tannie daarin – eintlik ’n ‘desert warrior’.” Sy kan nie uitgepraat raak oor die ervaring van op ’n filmstel te werk nie. “Daar is so baie kameras die vader weet. Jy raak mal! Maar hierdie ou granny het haar eie stunts gedoen.”
Terloops, Charlize Theron se Afrikaans is glo nog fantasties: “Sy het graag met my en die ander plaaslike crew Afrikaans gepraat. Sy is geensins verwaand nie.”

Die son het stadigaan begin sak soos wat die namiddag aanbeweeg. Sy sluit haar kantoordeur en kyk sylangs na my: “Jy weet, ’n mens moet honger wees as jy iets in die lewe wil hê. Moenie terugstaan nie: vat!” Al is dié boodskap al baie gegee, bly dit steeds net so waar, so luister maar vir Antoinette: as jy nie gaan waag nie, gaan jy nie wen nie. En Antoinette is ’n wenner. 

Friday, 11 April 2014

“Wes-Kaap is nie ons kiesersbasis” – UDM

UDM-logo.
Bron: News24
Die merkbare afwesigheid van United Democratic Movement (UDM) plakkate en ander verkiesingsfoefies op Stellenbosch is daaraan te wyte dat hier nie genoeg swart kiesers is nie.
Dít is volgens Jana Warffemius, die UDM se media-skakelpersoon, die rede vir die UDM se skynbare afwesigheid hier op die vooraand van die Mei-verkiesing.
Volgens Warffemius lê die UDM se sterkpunt in areas waar groter konsentrasies swart kiesers woon, soos die Oos-Kaapse platteland. “Die UDM is ingestel op die bevordering en behoud van kulturele waardes. Ons ag die waardes van veral tradisionele groepe hoog.”
In die 2009 verkiesing kon die UDM slegs 0,78% van die stemme in die Wes-Kaap verower.
Sowat twee weke gelede het die UDM-leier, Bantu Holomisa, ’n groep tradisionele leiers in Kuilsrivier ontmoet. By hierdie geleentheid het hy ook met die tradisionele koning van die Khoisan , King Cardi, vergader. Kwessies soos die bewaring van etniese kulture is bespreek.
Hierdie besoek het deel uitgemaak van ’n groter politiese strategie waartydens Holomisa  ook ’n groep voormalige DA- en ANC-lede wat na die UDM toe oorgeloop het, amptelik by die UDM                       verwelkom het.
Die skare by die huis in Kuilsrivier waar Holomisa gepraat het, het ook sy retoriek oor die onlangse OB-verslag rakende President Jacob Zuma se Nkandla-woning gehoor. Hy het dit as “’n duidelike voorbeeld van korrupsie op die hoogste vlak van ons samelewing” beskryf.
Volgens Warffemius is dit egter nie die UDM se beleid om die vuil wasgoed van ander partye in hul verkiesingsveldtog te gebruik nie.
Dié aanmaning word gemaak al het die UDM onlangs ’n strooibiljet in die Oos-Kaap versprei waarop verskeie politieke partye se skandale in die vorm van ’n strokiesprent uitgebeeld word. Warffemius bevestig dat die aanbieding doelbewus geteken was, “sodat die ongeletterdes ook die prentjies kan interpreteer.”
Die UDM se hoeksteen in sy verkiesingsmanifes is dat die regering meer moet doen vir die gewone mens. “Maar dit beteken nie die land moet aanhou verval tot ’n welsynstaat nie,” verduidelik Warffemius. “Mense wat kan werk moet werk en geld verdien binne die kapitalistiese sisteem (waarin ons is), en diegene wat nie werk nie, moet met groter verantwoordelikheid van staatskant gehelp word deur middel van volhoubare werkskepping.”
Op Twitter het Holomisa bevestig hy kom voor die verkiesingsdag Stellenbosch toe, maar dat hy nog onseker is oor die datums. Warffemius kon ook nie bevestig wanneer sy besoek aan die Eikestad gaan wees nie.

Hy was wel hierdie Saterdag by die OR Thambo-saal in Khayelitsha waar hy die UDM se verkiesingsmanifes bespreek het. 

Tuesday, 8 April 2014

Die verlede, die nou en die toekoms van media-gewoontes onder 'n groep studente

Wikus Brink, Stephanie Page en Anneke van Heerden:
Húlle lees hul nuus nog in koerante.
In 'n tyd van moderne vooruitgang, is dit so te sê 'n algemeen aanvaarde feit dat hoe dinge in die verlede gedoen is, is besig om stadigaan uit te sterf. "Dit gaan die weg van die dinosourusse" word gesê. Een onomwonde feit is dat die mensdom, ongeag wat, altyd 'n inherente nuuskierigheid aan die orde van die dag gaan stel. Daardie een vraag bly behoue: "Wat is nuus?" 

Om hierdie vraag te kan beantwoord, dwing dit 'n persoon tot retrospeksie oor waar hy of sy die nuus vandaan kry. Waar lees ons nuus? Of hoor ons dit eerder? Wat is die mees betroubare bron van nuus? Hoe weet 
ons wat ons lees is geloofwaardig en beskik 
oor die nodige gravitas? 

Die vrees bestaan in vandag se tegnologies gejaagde wêreld dat ou tradisionele forme van nuusbronne - byvoorbeeld koerante, tydskrifte, oftewel print-media - besig is om uit te sterf. Mense vra gereeld of koerante nog 'n relevansie het. Die antwoord is baie keer nie 'n goeie vooruitsig vir die print-media nie. 

Dit maak dit dan des te meer interessant dat 'n groep jong studente by die Universiteit van Stellenbosch openhartig gepraat het oor hulle nuuskry-gewoontes en dat daar een ding duidelik gestel is: koerante is hier om te bly. Dit is steeds vir hierdie drie 'n baie belangrike bron van nuus en hulle al drie lees steeds koerante vir daardie "nuus agter die hoofopskrifte".

Stephanie Page van Bellville vertel dat sy nie as kind baie belanggestel het in nuus nie. "Nee, my pa het my alles vertel wat in die nuus aangaan - hy koop soos drie koerante 'n dag! - ek het dinge maar by hom gehoor en nooit regtig self nuus gaan soek nie." Anneke van Heerden, ook van Bellville, vertel weer hoe sy van kleins af vasgeklou het aan koerante soos Die Burger as nuusbron. "Veral as dit saam met die Huisgenoot kom!" 
Sy sien koerante as "bronne van ons tyd" en veral waardevol vir eendag wanneer daar navorsing gedoen gaan moet word oor hierdie tyd en plek waarin ons nou lewe. "Sosiale media bied nie dieselfde nie. Dit is nie so 'n betroubare en volhoubare bron soos koerante vir navorsing nie," verduidelik sy verder.  

By navrae of hulle enigsins tegnologies georiënteerd is, kom die antwoord wel vinnig: beslis! Vir onmiddellike nuus is selfone en die internet in vandag se tegnologiese wêreld steeds baas. "As ons hoor iets het so pas gebeur - 'n groot gebeurtenis soos byvoorbeeld Nelson Mandela se dood - sal ons eerste op ons fone gaan en daarna op Google om verskeie opinies te gaan opsoek" vertel Stephanie. 
Videos is ook verbasend genoeg nie vir hulle enigsins 'n trekpleister nie. "Videos maak mense lui om te lees" sê 
Stephanie. As 'n stuk goed genoeg geskryf is om haar aandag te behou, gee sy nie om om lang stukke teks te lees nie. "Die koerante is juis daar vir die dieper insig die volgende dag."

Televisie het wel nog altyd 'n belangrike rol vervul. " 'n Gebeurtenis soos 9/11 is iets wat ek op TV gesien het en kan onthou," vertel Anneke. "Maar 24-uur nuuskanale vandag kan baie herhalend raak." Die subjektiewe aard daarvan is ook vir die groep problematies. 'n Duidelike pro-Amerikaanse temperament van nuuskanale soos Fox word uitgesonder. "Mens moet net Al Jazeera kyk," meen Anneke. Net om vinnig te onthou dat daardie nuuskanaal ook maar sy eie vooropgestelde agenda die wêreld instuur. 

Wikus Brink, Stephanie se kêrel, meen die internet moet vry en gratis bly as nuusbron, maar dat instansies soos Die Burger 'n subskripsie-fooi kan vra om hulle kostes te dek. En vandaar kan goed soos gespesialiseerde nuusgewing spruit. "As jy hou van politieke nuus, dan kry jy net politieke nuus."

Dié drie kon land en sand gesels oor die aard van nuuswerwing in vandag se samelewing. Die belangrikheid van sosiale media om van "almal van ons nuusskrywers te maak" tersyde, bly hulle dit eens: koerante is hier om te bly. En dit is verfrissend om te hoor. 

Foto's: Petrus Malherbe, Twitter, Die Burger, ENCA, Al Jazeera, News24

Vir 'n uittreksel uit die volledige onderhoud waarin dié drie oor hul media-gewoontes gesels, luister gerus hier:


Friday, 28 March 2014

"Frozen" laat luisteraars glad nie koud nie

Album vir Frozen. Bron: Fanpop
Die nuutste Disney animasieprent, Frozen, het sedert kort voor Kersfees laasjaar al meer as ’n $1 miljard by die wêreldwye-loket verdien. Die fliek word bestempel as ’n absolute wegholsukses, nie net finansieel nie, maar ook krities. Resensente is dit eens dat dié prettige verhaal ’n fantastiese mengsel is van ’n uitstekende draaiboek, animasie en ook musiek.
Frozen is ’n tradisionele musiekblyspel in vele opsigte. Soos in die geval van ander Disney gunstelinge soos The Little Mermaid, Beauty and the Beast en The Lion King, word musiek ook hier integraal tot die storielyn gebruik. Net soos in daardie films is die lirieke ook heelwat meer as net woorde; dit is as’t ware die eintlike dialoog.
Vir baie jare gedurende die 1990’s en vroeg 2000’s het Disney altyd die veteraan liedjieskrywer Alan Menken as komponis ingespan. Menken het in sy loopbaan al agt Oscars gewen vir flieks soos Beauty and the Beast en Alladin. Sy styl is al goed bekend en is baie gepas. Vir Frozen is daar eerder besluit om vir die eerste keer die getroude paartjie Robert Lopez en Kristen Anderson-Lopez te gebruik. Nes Menken het hulle ook ’n agtergrond in Broadway. Tematies kan die musiek hier beslis binne die milieu van die teater gesien word. Die liedjies is groot, dramaties en spreek sterk temas aan.
Dié twee weet ook hoe om lirieke goed te gebruik. Uit die agt liedjies wat hulle vir Frozen geskryf het, is dit veral die Oscar-wenner “Let it go” wat die luisteraar bybly. Die betowerende stem van Idina Menzel is uitstekend in die rol van die verwarde yskoningin wat daarin tot die besef kom dat sy nie meer moet omgee wat ander van haar dink nie; sy moet net haar lewe leef en haar gawe om sneeu en ys met ’n enkele aanraking te kan produseer, waardeer.  
Ander stemme in die rolverdeling wat spesiale vermelding verdien, is Josh Gad en Kristin Bell. Albei is veral bekend as akteurs eerder as sangers, maar hier word ’n verskuilde talent ontbloot. Gad is veral indrukwekkend as die getroue en verstrooide sneeuman wat ironies genoeg net graag in die son wil baljaar (soos gehoor in “In Summer”).
Bell vertolk ’n belangrike rol as die afgeskeepte suster van die yskoningin. Haar verlange na haar suster word perfek opgesom in die ballade “For the First Time in Forever”.

Die musiek vir Frozen is wel onlosmaaklik deel van die film self. Vir diegene wat nie die fliek gesien het nie, mag die musiek en lirieke nie veel waarde inhou nie. Dit is geskryf om saam met die visuele beelde as een geheel te werk. Liefhebbers van die fliek kan egter glad nie verkeerd gaan deur die album ook aan te skaf nie.  

Tuesday, 25 March 2014

Eerste multimedia! Valiant Swart sing LIVE by Woordfees 2014!


By die onlangse Universiteit van Stellenbosch Woordfees het die bekende sanger en akteur Valiant Swart een van sy nuuste liedjies "live" op die RSG-verhoog gesing. Die liedjie, "Mm-mm, na-na" is vir die eerste keer ooit hier op die lug aan 'n wyer gehoor gesing.

Monday, 24 March 2014

Gretchen Dietz: die gewer van ware geluk

Die eerste ding wat jy opmerk soos jy die oprit na Gretchen Dietz se woonstel neem, is die ontsettende sterk reuk van ontlasting. Menslike ontlasting. Dit is merkbaar dwarsdeur my toe motorvenster. Die oorsprong van die reuk is nie dadelik duidelik nie. Die spul bosse neffens die oprit mag dalk die skuilplek wees van die onhebbelikheid. My natuurlike nuuskierigheid en die versoeking om daarin te gaan krap word gelukkig presies onderbreek soos wat Gretchen die hek vir my oopmaak.
In teenstelling met die sensoriese oorlading buite, begroet ’n heelwat rustiger toneel my aan die binnekant van haar woonstel in die Berlinka-kompleks in Dorpstraat, Stellenbosch. Soos ’n tipiese studente-woonstel sal ’n mens nou nie eintlik woorde soos “ruim” en “groot” gebruik om dit te beskryf nie; eerder “huislik”, “vriendelik”.
Sy het my gewaarsku dat daar vandag geskarrel gaan word in hierdie klein spasie. Dit is immers môre haar woonstelmaat, Tilly Randle, se 21ste-verjaarsdagpartyjie. En Gretchen het dit op haarself geneem om die verversings voor te berei.
“Ek is mal oor verjaarsdae!” verklaar sy opgewonde. “Ek probeer alles wat ek kan om dit so spesiale dag as moontlik vir iemand te maak. Dit maak altyd die harde werk vooraf die moeite werd.”
Gelukkig vir Tilly kan Gretchen duidelik goed agter die potte en panne werskaf. Die spyskaart word uiteengesit: wortelkoek, cupcakes en klein hoenderpasteitjies.
By my aankoms is Tilly se twee niggies, Polly en Katie, reeds besig om die laaste rondtes te roer van ’n reuse wortelkoekbeslag. Hulle is op besoek vanaf UCT vir dié groot geleentheid.
Tilly is die suster van Gretchen se kêrel, Jack. Dié twee skoonsusters is al van die kom staan af beste vriendinne. Tilly beskryf hoeka vir Gretchen in haar hoogdrawende Zimbabwiese Engels as die “beste moontlike vriend en mens. Sy is so maklik om mee om te gaan; mee te gesels. Ek kon nie vir ’n beter woonstelmaat gewens het nie.”
Op daai noot begin ek die woonstel verder verken. Tekens dat hierdie twee onlangs ingetrek het, is nog  sigbaar. Gordyne kort nog voor die leefarea se venster. Dít ten spyte van die feit dat Gretchen vroeër vanjaar ’n poedelnaak rugbyspeler gesien het in een van die vensters van die Sportakademie wat net agter hulle woonstel is. “Hy het duidelik nie gedink iemand kan hom sien nie.”
Met Polly en Katie se wortelkoek in die oond, begin Gretchen voor te berei aan die klein hoenderpasteitjies. ’n Klaar-gaar hoender word met ’n gelyke hoeveelheid grasie en geweld uitmekaargeruk. Tussendeur begin ek uitvis oor haar verhouding met Jack.
Hulle is reeds twee-en-’n-half-jaar saam. Hy boer naby Elgin. Hy is ook van Zimbabwe. Haar ouers en baie van haar vriende was aanvanklik versigtig en sommige het skaam-skaam gevra: “Is hy wit?” Hierdie grap bly vir haar kostelik wanneer sy vir Jack aan mense noem, want die vraag brand altyd, maar min het die moed om dit reguit te vra.
Hulle het ontmoet tydens ’n bier-pong kompetisie by die huis waarin Jack destyds gewoon het. Liefderik genoem “The ’Nage” –  kort vir “The Orphanage” – ’n plek vir rondloperstudente waar hulle ’n tuiste kon vind: vir nuwe vriendskappe en ’n lekker kuier.
En in daardie tyd het Gretchen nie nee gesê vir ’n lekker kuier nie: “Hel, ek het baie partytjies gehou in my jonger jare. Tipies, ek weet.
“Ek was daardie aand saam ’n ander vriend van my, ook genoem Jack, by “The ’Nage”. Toe ek ‘my’ Jack daar ontmoet, het ek eers halsstarrig gestry dat dit onmoontlik kon wees dat daar twee Jacks by een partytjie kan wees.
“Met die misverstand gelukkig gou opgelos, het ons in kontak gebly; mekaar weer-en-weer by partytjies gesien en naderhand net besluit: what the heck, ons is saam.”
Jack was eers nie ook by die woonstel nie. Hy moes ’n paar takies afhandel voor die partytjie. Toe hy heelwat later daar aankom, stel hy homself skaapagtig voor en besluit daar-en-dan om ’n bietjie te gaan rus. Gretchen laat hom begaan, maar skroom nie om my gou meer oor hulle verhouding te vertel nie. Hulle liefde vir mekaar is duidelik.
Teen hierdie tyd het die voorbereidings al sover gevorder dat die wortelkoek amper klaar versier is. Polly is besig om klein vlaggies uit gekleurde papier te sny waarmee sy uiteindelik die woorde “Happy Birthday Tilly!” as ’n banier oor die koek wil sprei.
Die brokkies hoender word gemeng met ’n verskeidenheid van speserye, uie, sampioene en room. Ek help proe: heeltemal te sout. Ons gooi ’n ruim sopie witwyn by. Perfek. Dis tyd om die deeg uit te rol.
Sy begin te gesels oor haar ouers, Mark en Zyta. “My ma wil graag dink haar naam is Pools. Dit is nie. Alhoewel haar familie van Poland is, is haar naam 100% opgemaak.” Haar pa is ’n besproeiingstegnikus in Nelspruit; haar ma help uit met die familiebesigheid en doen tussendeur naaldwerk. Die familie bly al 23 jaar daar.
Voordat Gretchen en haar broer, Adrian, gebore is, het Zyta ’n tweeling op ses maande verloor. “My ouers het gesukkel om kinders te kry en na ’n vrugbaarheidsbehandeling het my ma swanger geraak. Daar het egter ernstige komplikasies ingetree en sy is inderhaas geopereer. Tydens die operasie het my ma gesterf – letterlik ge-flatline – net om weer deur die dokters bygebring te word.
“Ek kan goed onthou as klein dogtertjie wou ek altyd net by my ma weet of sy vir Jesus gesien het terwyl sy dood was.”
Adrian is sowat ’n jaar later gebore. Hy is verstandelik gestrem. Op 23 is hy in baie opsigte soos ’n kind van sewe. “Om saam met Adrian groot te word was gelyktydig uitdagend en ook wonderlik. Hy het my geleer om altyd ander mense eers beter te verstaan voordat ek hulle veroordeel. Weens die aard van sy gestremdheid moes hy vele kere die renons van ander verdra. Om te sien hoe hy dit hanteer, het my geleer om dit in my eie lewe toe te pas.”
Sy roep ook ander jeurgherinnerine op. Soos die nou band wat sy met haar pa deel as dit kom by hulle liefde vir krieket. “As kind sou ek in die middernagtelike ure op my pa se skoot kruip en saam met hom na ’n regstreekse uitsending van ’n wedstryd uit Australië te kyk. Daai tye was vir my baie spesiaal. Ek bel hom vandag nog na baie wedstryde sodat ons daaroor kan gesels.”
Die laaste paar pasteitjies word in die oond gedruk. My besoek is ook verby. Ek merk dat sy nog net so vrolik is as wat sy was toe sy soveel ure gelede begin kook het. Die entoesiasme het geensins tussen al die moeite deur gesak nie. Sy straal steeds en spring dadelik weg met die cupcakes.
Skielik besef ek iets merkwaardig: miskien gaan hierdie selfversekerde “Harry Potter befokte” vrou  nie eendag vir die Protea-krieketspan kolf nie, beskik sy wel oor ’n heelwat belangriker talent. Gretchen Dietz weet presies wat geluk is en hoe om dit aansteeklik oor te dra aan almal om haar. En in kort is dit ook presies wat sy is en wil wees.  

Foto: Facebook