Deur Petrus Malherbe
Een-en-twintig koshuispare van die
Universiteit van Stellenbosch het verlede Vrydag oudergewoonte weer kragte
saamgespan om die jaarlikse hoogtepunt van die verwelkomingsweek vir nuwe
eerstejaarstudente ’n fees van musiek en dans te maak.
Waar ’n persoon sou dink dat die
feestelikheid in der waarheid eintlik moet draai om die vertonings self, het
hierdie jaarlikse tradisie begin om ’n veel ernstiger onderliggende sosiale
probleem op Stellenbosch te ontbloot: drankmisbruik. Vensters 2014 was geen
uitsondering nie.
By ’n groot geleentheid soos hierdie word
die belangrikheid van veiligheid hoog op prys gestel.
Volgens Inge Rist, voorsitter van die
komitee vir veiligheid tydens die verwelkomingsweek, word tot soveel as 90% van
alle ongewenste gebeure tydens Vensters deur dronkenskap veroorsaak. “Mense is net daar vir die partytjie.”
Rist meen selfs al het die Universiteit in onlangse jare die gebruik
van sogenaamde “alkohol monitors” ingestel, dat hierdie sisteem nie eens kan
hoop om ’n volhoubare oplossing vir die probleem te wees nie. Al word daar van
hierdie monitors verwag om enige drank by ’n student weg te neem wat ’n vertoning
wil bywoon, is dit moeilik vir ’n dame om ’n volwasse man se drankbottel by hom
weg te raap en bloot te hoop hy skop nie ’n bohaai op nie, verduidelik sy.
Talia Cullinan, onder-primaria vir Sonop dameskoshuis, maan dat dit
in realiteit nie vanjaar gehelp het om studente se drankies by hulle af te neem
nie, want sommige kom reeds so dronk by Vensters aan dat dit te laat is om ’n
verskil te probeer maak. Vyf dronk studente het vanjaar selfs gepoog om deur
die versperrings by Eendrag manskoshuis te breek.
By Vensters 2014 is die afneem van drankies heeltemal deur sommige
studente gesystap omdat drank deur die versperrings aangegee is aan diegene wat
reeds binne was, vertel Rist. Lede van die manswyk Libertas het glo selfs van
hierdie alkohol dan aan eerstejaarstudente gegee in ’n poging om die hele
affêre “meer draaglik” vir hulle te maak.
Huiskomitee-lede, wat op sigself as gevolg van hulle gesagsposisies
verantwoordelik is om toe te sien dat sulke goed nie gebeur nie, kies meermale
om die ander pad te kyk. Karll Abels, primarius van die gemengde wyk Aurora, meen
dat dit vir hulle onmoontlik is om ’n beheer oor almal uit te oefen, want
studente “maak net wat hulle wil.”
’n Eerstejaar van Lydia dameskoshuis, Lize Scribante, wie vanjaar
saam met Aurora aan Vensters deelgeneem het, vertel dat sy duidelik kon sien
dat sommige van Aurora se eerstejaars alreeds “goed gekuier” was voor hulle die
verhoog die eerste keer om 18:00 bestyg het.
Volgens Melany le Roux van Kampussekuriteit het die Universiteit nie
veel meer opsies as om net elke jaar nog sekuriteitspersoneel in te koop om bo
en behalwe die bestaande kampussekuriteit te probeer om wet en orde te handhaaf
nie. Rist glo egter dat die situasie slegs verbeter sal word indien iedere en
elke dronk student heeltemal vanaf Vensters verban kan word.
HK-lede van Libertas kon nie vir kommentaar bereik word nie.
No comments:
Post a Comment