Wednesday, 26 February 2014

Munisipaliteite kan nou op ontwikkelingsmoontlikhede uitbrei

Munisipaliteite gaan ’n totale bedrag van R105 miljard vanuit die staatskas ontvang gedurende die volgende finansiële jaar om te help met die oprigting en instandhouding van die nodige infrastruktuur.
Só het Pravin Gordhan, minister van finansies, gister in die Parlement tydens sy vyfde begrotingsrede aangekondig. Dit vorm alles deel van Gordhan se oorkoepelende plan om die “fragmentasie van Suid-Afrika se munisipaliteite” oor die afgelope paar jaar teen te werk.
Volgens die minister is so ’n inisiatief slegs moontlik indien daar op ’n mikro-vlak gekyk word na hoe munisipaliteite beter met hul staatsubsidies kan omgaan om die lewens van die alledaagse man op straat te verbeter.
Volgens Judex Oberholdzer, ’n ontwikkelings-ekonoom en hoofuitvoerende beampte van Urban-Econ Development Economists, is dit verfrissend dat Gordhan vanjaar spesifiek gekies het om in sy begrotingsrede te verwys na hierdie mikro-ekonomiese aspekte op ’n plaaslike vlak.
Hy verduidelik dat die onderhoud en uitbreiding van infrastruktuur deur munisipaliteite op hierdie vlak van kardinale belang is vir ekonomiese groei in Suid-Afrika. “Dit sal veral meer beleggersekerheid bring in die kommersiële-eiendomsmark indien munisipale-dienslewering kan verbeter en toegang verkry kan word tot infrastruktuur-kapitaal. Beleggings in eiendomsontwikkeling vorm die grootste bydraende element van plaaslike ekonomiese ontwikkeling en sulke beleggings kan net suksesvol wees binne ’n raamwerk van suksesvolle plaaslike bestuur.”
Oberholdzer verwys ook deels na ’n ander aspek wat Gordhan spesifiek in sy toespraak aangeraak het, naamlik die belangrikheid van die privaatsektor om die ekonomie van Suid-Afrika aan te hou stimuleer. Indien daar dus gepoog gaan word om dienslewering in munisipaliteite genoegsaam te verbeter en in stand te hou, sal die ekonomiese potensiaal van ’n dorp of stad “dienooreenkomstig toeneem en meer beleggers lok,” meen Oberholdzer.
“Die probleem is egter dat ’n persoon nie weet hoe lank hierdie beleid van die minister gaan neem om geïmplementeer te word nie,” voeg Oberholdzer by. “Indien daar deur munisipaliteite gesloer gaan word om daadwerklik skouer aan die wiel te sit, mag die goeie en broodnodige toegewings van die minister dalk nie die gewenste ekonomiese inspuiting tot gevolg hê nie.” 
Dit beteken ook die implementeringsvermoë van munisipaliteite moet verbeter in oorleg met die regering se Nasionale Ontwikkelingsplan. Dit is ’n aspek wat volgens Oberholdzer direk inskakel by die kwessie van ontwikkelingsmoontlikhede by die verskillende munisipaliteite aangesien die verantwoordelikheid hiervoor binnekort by die munisipaliteite self gaan lê en nie meer by die provinsiale regering nie.

“Gelukkig het Gordhan ’n duidelike begrip van die Nasionale Ontwikkelingsplan en is dit gerusstellend dat hy Suid-Afrika in daardie opsig in die regte rigting wil stuur,” het Oberholdzer bygevoeg. “Die bal is egter nou in die baan van die munisipaliteite.” 

No comments:

Post a Comment