Friday 28 March 2014

"Frozen" laat luisteraars glad nie koud nie

Album vir Frozen. Bron: Fanpop
Die nuutste Disney animasieprent, Frozen, het sedert kort voor Kersfees laasjaar al meer as ’n $1 miljard by die wêreldwye-loket verdien. Die fliek word bestempel as ’n absolute wegholsukses, nie net finansieel nie, maar ook krities. Resensente is dit eens dat dié prettige verhaal ’n fantastiese mengsel is van ’n uitstekende draaiboek, animasie en ook musiek.
Frozen is ’n tradisionele musiekblyspel in vele opsigte. Soos in die geval van ander Disney gunstelinge soos The Little Mermaid, Beauty and the Beast en The Lion King, word musiek ook hier integraal tot die storielyn gebruik. Net soos in daardie films is die lirieke ook heelwat meer as net woorde; dit is as’t ware die eintlike dialoog.
Vir baie jare gedurende die 1990’s en vroeg 2000’s het Disney altyd die veteraan liedjieskrywer Alan Menken as komponis ingespan. Menken het in sy loopbaan al agt Oscars gewen vir flieks soos Beauty and the Beast en Alladin. Sy styl is al goed bekend en is baie gepas. Vir Frozen is daar eerder besluit om vir die eerste keer die getroude paartjie Robert Lopez en Kristen Anderson-Lopez te gebruik. Nes Menken het hulle ook ’n agtergrond in Broadway. Tematies kan die musiek hier beslis binne die milieu van die teater gesien word. Die liedjies is groot, dramaties en spreek sterk temas aan.
Dié twee weet ook hoe om lirieke goed te gebruik. Uit die agt liedjies wat hulle vir Frozen geskryf het, is dit veral die Oscar-wenner “Let it go” wat die luisteraar bybly. Die betowerende stem van Idina Menzel is uitstekend in die rol van die verwarde yskoningin wat daarin tot die besef kom dat sy nie meer moet omgee wat ander van haar dink nie; sy moet net haar lewe leef en haar gawe om sneeu en ys met ’n enkele aanraking te kan produseer, waardeer.  
Ander stemme in die rolverdeling wat spesiale vermelding verdien, is Josh Gad en Kristin Bell. Albei is veral bekend as akteurs eerder as sangers, maar hier word ’n verskuilde talent ontbloot. Gad is veral indrukwekkend as die getroue en verstrooide sneeuman wat ironies genoeg net graag in die son wil baljaar (soos gehoor in “In Summer”).
Bell vertolk ’n belangrike rol as die afgeskeepte suster van die yskoningin. Haar verlange na haar suster word perfek opgesom in die ballade “For the First Time in Forever”.

Die musiek vir Frozen is wel onlosmaaklik deel van die film self. Vir diegene wat nie die fliek gesien het nie, mag die musiek en lirieke nie veel waarde inhou nie. Dit is geskryf om saam met die visuele beelde as een geheel te werk. Liefhebbers van die fliek kan egter glad nie verkeerd gaan deur die album ook aan te skaf nie.  

Tuesday 25 March 2014

Eerste multimedia! Valiant Swart sing LIVE by Woordfees 2014!


By die onlangse Universiteit van Stellenbosch Woordfees het die bekende sanger en akteur Valiant Swart een van sy nuuste liedjies "live" op die RSG-verhoog gesing. Die liedjie, "Mm-mm, na-na" is vir die eerste keer ooit hier op die lug aan 'n wyer gehoor gesing.

Monday 24 March 2014

Gretchen Dietz: die gewer van ware geluk

Die eerste ding wat jy opmerk soos jy die oprit na Gretchen Dietz se woonstel neem, is die ontsettende sterk reuk van ontlasting. Menslike ontlasting. Dit is merkbaar dwarsdeur my toe motorvenster. Die oorsprong van die reuk is nie dadelik duidelik nie. Die spul bosse neffens die oprit mag dalk die skuilplek wees van die onhebbelikheid. My natuurlike nuuskierigheid en die versoeking om daarin te gaan krap word gelukkig presies onderbreek soos wat Gretchen die hek vir my oopmaak.
In teenstelling met die sensoriese oorlading buite, begroet ’n heelwat rustiger toneel my aan die binnekant van haar woonstel in die Berlinka-kompleks in Dorpstraat, Stellenbosch. Soos ’n tipiese studente-woonstel sal ’n mens nou nie eintlik woorde soos “ruim” en “groot” gebruik om dit te beskryf nie; eerder “huislik”, “vriendelik”.
Sy het my gewaarsku dat daar vandag geskarrel gaan word in hierdie klein spasie. Dit is immers môre haar woonstelmaat, Tilly Randle, se 21ste-verjaarsdagpartyjie. En Gretchen het dit op haarself geneem om die verversings voor te berei.
“Ek is mal oor verjaarsdae!” verklaar sy opgewonde. “Ek probeer alles wat ek kan om dit so spesiale dag as moontlik vir iemand te maak. Dit maak altyd die harde werk vooraf die moeite werd.”
Gelukkig vir Tilly kan Gretchen duidelik goed agter die potte en panne werskaf. Die spyskaart word uiteengesit: wortelkoek, cupcakes en klein hoenderpasteitjies.
By my aankoms is Tilly se twee niggies, Polly en Katie, reeds besig om die laaste rondtes te roer van ’n reuse wortelkoekbeslag. Hulle is op besoek vanaf UCT vir dié groot geleentheid.
Tilly is die suster van Gretchen se kêrel, Jack. Dié twee skoonsusters is al van die kom staan af beste vriendinne. Tilly beskryf hoeka vir Gretchen in haar hoogdrawende Zimbabwiese Engels as die “beste moontlike vriend en mens. Sy is so maklik om mee om te gaan; mee te gesels. Ek kon nie vir ’n beter woonstelmaat gewens het nie.”
Op daai noot begin ek die woonstel verder verken. Tekens dat hierdie twee onlangs ingetrek het, is nog  sigbaar. Gordyne kort nog voor die leefarea se venster. Dít ten spyte van die feit dat Gretchen vroeër vanjaar ’n poedelnaak rugbyspeler gesien het in een van die vensters van die Sportakademie wat net agter hulle woonstel is. “Hy het duidelik nie gedink iemand kan hom sien nie.”
Met Polly en Katie se wortelkoek in die oond, begin Gretchen voor te berei aan die klein hoenderpasteitjies. ’n Klaar-gaar hoender word met ’n gelyke hoeveelheid grasie en geweld uitmekaargeruk. Tussendeur begin ek uitvis oor haar verhouding met Jack.
Hulle is reeds twee-en-’n-half-jaar saam. Hy boer naby Elgin. Hy is ook van Zimbabwe. Haar ouers en baie van haar vriende was aanvanklik versigtig en sommige het skaam-skaam gevra: “Is hy wit?” Hierdie grap bly vir haar kostelik wanneer sy vir Jack aan mense noem, want die vraag brand altyd, maar min het die moed om dit reguit te vra.
Hulle het ontmoet tydens ’n bier-pong kompetisie by die huis waarin Jack destyds gewoon het. Liefderik genoem “The ’Nage” –  kort vir “The Orphanage” – ’n plek vir rondloperstudente waar hulle ’n tuiste kon vind: vir nuwe vriendskappe en ’n lekker kuier.
En in daardie tyd het Gretchen nie nee gesê vir ’n lekker kuier nie: “Hel, ek het baie partytjies gehou in my jonger jare. Tipies, ek weet.
“Ek was daardie aand saam ’n ander vriend van my, ook genoem Jack, by “The ’Nage”. Toe ek ‘my’ Jack daar ontmoet, het ek eers halsstarrig gestry dat dit onmoontlik kon wees dat daar twee Jacks by een partytjie kan wees.
“Met die misverstand gelukkig gou opgelos, het ons in kontak gebly; mekaar weer-en-weer by partytjies gesien en naderhand net besluit: what the heck, ons is saam.”
Jack was eers nie ook by die woonstel nie. Hy moes ’n paar takies afhandel voor die partytjie. Toe hy heelwat later daar aankom, stel hy homself skaapagtig voor en besluit daar-en-dan om ’n bietjie te gaan rus. Gretchen laat hom begaan, maar skroom nie om my gou meer oor hulle verhouding te vertel nie. Hulle liefde vir mekaar is duidelik.
Teen hierdie tyd het die voorbereidings al sover gevorder dat die wortelkoek amper klaar versier is. Polly is besig om klein vlaggies uit gekleurde papier te sny waarmee sy uiteindelik die woorde “Happy Birthday Tilly!” as ’n banier oor die koek wil sprei.
Die brokkies hoender word gemeng met ’n verskeidenheid van speserye, uie, sampioene en room. Ek help proe: heeltemal te sout. Ons gooi ’n ruim sopie witwyn by. Perfek. Dis tyd om die deeg uit te rol.
Sy begin te gesels oor haar ouers, Mark en Zyta. “My ma wil graag dink haar naam is Pools. Dit is nie. Alhoewel haar familie van Poland is, is haar naam 100% opgemaak.” Haar pa is ’n besproeiingstegnikus in Nelspruit; haar ma help uit met die familiebesigheid en doen tussendeur naaldwerk. Die familie bly al 23 jaar daar.
Voordat Gretchen en haar broer, Adrian, gebore is, het Zyta ’n tweeling op ses maande verloor. “My ouers het gesukkel om kinders te kry en na ’n vrugbaarheidsbehandeling het my ma swanger geraak. Daar het egter ernstige komplikasies ingetree en sy is inderhaas geopereer. Tydens die operasie het my ma gesterf – letterlik ge-flatline – net om weer deur die dokters bygebring te word.
“Ek kan goed onthou as klein dogtertjie wou ek altyd net by my ma weet of sy vir Jesus gesien het terwyl sy dood was.”
Adrian is sowat ’n jaar later gebore. Hy is verstandelik gestrem. Op 23 is hy in baie opsigte soos ’n kind van sewe. “Om saam met Adrian groot te word was gelyktydig uitdagend en ook wonderlik. Hy het my geleer om altyd ander mense eers beter te verstaan voordat ek hulle veroordeel. Weens die aard van sy gestremdheid moes hy vele kere die renons van ander verdra. Om te sien hoe hy dit hanteer, het my geleer om dit in my eie lewe toe te pas.”
Sy roep ook ander jeurgherinnerine op. Soos die nou band wat sy met haar pa deel as dit kom by hulle liefde vir krieket. “As kind sou ek in die middernagtelike ure op my pa se skoot kruip en saam met hom na ’n regstreekse uitsending van ’n wedstryd uit Australië te kyk. Daai tye was vir my baie spesiaal. Ek bel hom vandag nog na baie wedstryde sodat ons daaroor kan gesels.”
Die laaste paar pasteitjies word in die oond gedruk. My besoek is ook verby. Ek merk dat sy nog net so vrolik is as wat sy was toe sy soveel ure gelede begin kook het. Die entoesiasme het geensins tussen al die moeite deur gesak nie. Sy straal steeds en spring dadelik weg met die cupcakes.
Skielik besef ek iets merkwaardig: miskien gaan hierdie selfversekerde “Harry Potter befokte” vrou  nie eendag vir die Protea-krieketspan kolf nie, beskik sy wel oor ’n heelwat belangriker talent. Gretchen Dietz weet presies wat geluk is en hoe om dit aansteeklik oor te dra aan almal om haar. En in kort is dit ook presies wat sy is en wil wees.  

Foto: Facebook

Sunday 16 March 2014

Voorskoot en Lipstiek - teaterresensie

Kos, kosmakers en teater toe nie sulke goeie maats

Voorskoot en Lipstiek is ’n unieke konsep. Dit is nie ’n kookdemonstrasie nie. Dit is nie teater óór kos nie. Dit is bloot teater … met kos.
Arnold (Herman Lensing) keer vir die eerste keer in maande terug na sy ouerhuis op Pofadder waar hy sy ma, Elza (Marinda Engelbrecht), dadelik begin help om ’n feesmaal voor te berei. Die motief agter die feesmaal pla vir Arnold; hy vind dit ongewoon dat sy ma so aandring daarop. Wat is haar motief?
Ma en seun begin saam stadig en statig ’n voor-, hoof- en nagereg aanmekaar te slaan. Besonderhede van die metodes, bestanddele en resepte is nie ter sprake nie. Eerder deel hulle nostalgiese stories van vervloë jare en roep kinderherinneringe op tussendeur die skil van ’n ui en die sny van ’n tamatie.
Dié teaterstuk het etlike probleme. Die konsep mag miskien belowend wees, maar die uitvoering is ’n gefaalde eksperiment. Marion Holm, die skrywer en regisseur, het ’n ontsettende fout begaan om bekende kosmakers eerder as akteurs te gebruik. Dit impliseer dat kosmaak die kern van die toneelstuk is, maar die geforseerde storielyn oorheers alles.
Die feit dat nóg Lensing nóg Engelbrecht enige toneelspelopleiding het, is merkbaar. Miskien omdat Engelbrecht self ’n ma is, vertolk sy haar rol beter, maar Lensing moet beslis nie oorweeg om sy dagtaak by Sarie te staak nie.
Hy is glad nie oortuigend wanneer hy moet maak of hy omgee oor hierdie “ma” van hom nie. Daar is nie eers ’n geringe gevoel van ’n liefdesverhouding tussen hulle nie. Die gehoor bly deurgaans bewus daarvan dat hulle toneelspeel.
Dit sou heelwat beter gewees het as Holm net vir Engelbrecht en Lensing toegelaat het om hulself te speel. Selfs as vriende sou hulle meer oortuigend kon wees as wat hulle is as ma en seun. Veral die einde met die uiteindelike onthulling van die rede agter die feesmaal kom vals voor omdat ons nie in die karakters glo nie.
Daarby moet dit ook genoem word dat hierdie beesstertdis en koek moontlik die mees onaptytwekkende kos is wat daar nog op ’n verhoog berei is. As die gehoor dalk iets kon ruik wat gaar word, sou dit beslis ook gehelp het om die situasie te verbeter.  

Waarlik ’n teleurstelling.  

Tuesday 11 March 2014

Pro-Palestynse-aktivis praat op Stellenbosch

“Enigeen wat Israel ondersteun, ondersteun terselfdertyd die massa-onderdrukking van ’n volk.”
Só het die bekende pro-Palestynse vryheidsaktivis Miko Peled gister gesê tydens in ’n volgepakte toespraak waarin hy grotendeels by feite probeer hou het.
Peled, ’n self-erkende “self-hatende Jood”, het by ’n geleentheid op Stellenbosch gepraat oor die “wrede en konstante onderdrukking van die Palestynse bevolking deur die regering van Israel.”
Dié toespraak vorm deel van ’n jaarlikse reeks gebeure gesamentlik genoem die “Israeli Apartheid Week” (IAW) wat tussen Februarie en Maart in verskeie wêreldlande aangebied word. Die gebeure tydens die IAW beywer hulself om regeringsmagte te oortuig om grootskaalse boikotte, nie-investering en sanksies teen die Israelitiese regering in te stel alvorens “die onregte teen Palestina nie opgehef word nie.”
Die geleentheid op Stellenbosch is georganiseer deur ’n plaaslike groep pro-Palestynse Stellenbossers en Matie-studente. Die openingsrede is gelewer deur die bekende Afrikaanse digter en voormalige Apartheidsstryder Breyten Breytenbach.
Breytenbach was skrikkerig om só ’n “gewigtige onderwerp” in te lei uit vrees dat hy op mense se tone sou trap. Gevolglik het hy telkemale die gehoor probeer verseker dat hy ’n “onpartydige opinie” oor die saak het.   
Peled het die verrigtinge sowat ’n driekwartier laat binnegekom. Aanvanklik het sy toespraak spesifiek gefokus op die geskiedenis van die Israeliese-Palestynse-konflik van die afgelope sowat 45 jaar.
Hierin het hy verwys daarna dat die geskiedenis van Israel en Palestina “twee narratiewe is wat diametries teen mekaar afspeel met geen hoop op balansering,” en ook dat Israel se voorstel van twee onafhanklike state slegs ’n kodewoord is vir ’n voortsetting van onderdrukking.  
Daar is ook gereeld deur Peled parallelle getrek tussen die situasie in Israel vandag en wat histories in Suid-Afrika onder die Apartheidsregime gebeur het. Hy veronderstel die moontlikheid dat die inwoners van Palestina “net soos die onderdrukte swartmense destyds in Suid-Afrika moet opstaan teen die minderheidsregering,” en dat hierdie vorm van omverwerping van die Israeliese-regering selfs meer vreedsaam sal kan verloop as wat in 1994 in Suid-Afrika die geval was.
’n Oplossing vir die situasie in Israel is dus moontlik indien die inwoners van Palestina in hulle massas opstaan teen hul eie onderdrukking.
Hierdie siening is nie deur almal wat teenwoordig was ondersteun nie. Een so ’n persoon, Gabriele Kuchenbecker, wat ook die verrigtinge bygewoon het en ’n meer pro-Israelietiese uitkyk het, voel dat daar eintlik geen werklike oplossing vir die probleem in Israel is nie, “want solank as wat geloof binne rekening gelaat word, sal daar vyandigheid wees tussen die betrokke partye. Dit is ’n historiese geskil wat al oor duisende jare heen dateer. Geen hoeveelheid diplomatiese gesprekvoering sal hierdie feit kan oorbrug nie.”  

Die IAW vind nog tot 16 Maart reg oor Suid-Afrika plaas.      

Sunday 9 March 2014

"Hierdie mens" deur Wilma Stockenström, 'n resensie

Hierdie mens dwing die leser tot vernuwende denke oor die sterfproses

Dit is veertien jaar sedert Wilma Stockenström ’n digbundel vrygestel het. Hierdie gesiene skrywer, dramaturg en digter lewer deurgaans uitstekende werk en haar nuutste, Hierdie mens, is geen uitsondering nie.
Die oorhoofse tema in Hierdie mens is beslis die eenmaligheid van menswees; die vlietende oomblik wat elkeen van ons die aarde betree en dan gou weer daarvan weggeraap word “tot fossielwordens toe” (“Ammoniet”).
Op 80 is dit verstaanbaar dat Stockenström willens en wetens in Hierdie mens fokus op die einde van ’n lewensiklus. Die dood, verlies en die natuurlike sirkel van die lewe word deurgaans teen mekaar afgespeel. Die mens in Hierdie mens is ook nie verteenwoordigend van ’n enkeling of individu nie. Dit is eerder asof sy daarop probeer wys dat “hierdie mens” na die spesie as ’n geheel verwys wat tob en werk op ’n klein planeetjie binne die groter kosmos. Om te sê Stockenström is hier met die maan gepla is glad nie vergesog nie.
Ten spyte van die ernstige tema van dood en vergelding is die stem in die digbundel tog lig en speels; daar is selfs ’n mate van onderlinge satiriese ironie te bespeur. Dit kom duidelik na vore in “Uitnodiging” waarin die rol van die begrafnisondernemer in die sterfproses slim mee gespot word:
Daar’s ’n glimlag in sy stem.
Hy sê: kom binne, kom binne,
ons werk nie meer met linne,
dis nou as en beentjies en rook
uit ’n vuur deskundiges gestook
maar steeds vir daar doer bestem.
Dit is asof Stockenström hier wil sinspeel op die feit dat doodgaan ook maar net ’n besigheid is.  So baie van ons sterf daagliks; die lewe moet aanbeweeg en ’n volgende sterfling moet verewig word in die hiernamaals.
Alhoewel die tema van wat na die dood gebeur nie regtig opvallend in die bundel is nie, verstaan die leser tog dat Stockenström op ’n eksistensialistiese wyse probeer sin maak van wat die dood eintlik beteken. Daar heers ’n hunkering by haar dat die mens in sy dood terugkeer na eenvoudiger dae: na tye van rus en stilte. In “Eenvoud is koning” roep sy juis “die lot van die hoër soogdier” in sy of haar dood vaarwel terwille van ’n lewe waarin ’n hy/sy eerder “agteruit, salig, gewetenloos...kan ontwikkel en vorder”.

In die geheel gesien is Hierdie mens in die gelukkige posisie dat Stockenström dit gestroop van pretensieuse taalgebruik geskryf het.  Elke gedig is ekonomies saamgestel en bereik sy impak kort en kragtig. Sy dra op ’n unieke wyse wyshede oor oor die aard en die lot van  menswees. Dit sal voorwaar enige liefhebber van dié genre tot dieper denke dwing.