Tuesday, 5 August 2014

Maties passop: stokkiesdraai kan jou dalk duur te staan kom



’n Hele kas wyn of ’n lekker tyd by ’n spa. Elke liewe dag.  

 

Dit is in geldelike waarde wat ouers van Matie-studente daagliks moet opdok aan klasgelde by dié universiteit.

 

Die Universiteit se kalender vir 2014 dui net 129 dae aan waarop daar amptelik klasgegee word.

 

Die res van die jaar word afgestaan aan eksamens (78 dae) en vakansies (93 dae).


Trek daarby ook naweke en openbare vakansiedae (waarvan sewe vanjaar op weeksdae val) af, en dit laat skaars ’n kwart van die jaar oor om aan akademiese bedrywighede te wy.

 

Een van die goedkoper kursusse, ’n BA in Drama en Teaterstudie, jaag ouers ’n rapsie meer as R29 000 per jaar uit die sak. ’n Gewone BSc kos net meer as R37 000 en een van die duurste kursusse, Ingenieurswese, meer as R40 000 per jaar.*

 

Dit bring die gemiddelde koste wat ouers betaal aan klasgelde vir elk van die 129 dae op enigiets tussen R220 en R310 neer.

 

Hierdie aardige bedrag laat boonop buite rekening addisionele kostes soos drukwerk en internetkostes. Volgens die Universiteit se woordvoerder, Martin Viljoen, word ouers aangeraai om sowat R3000 per jaar hiervoor te begroot.

 

Alle studente is ook onderhewig aan ’n paaiement van R230 om aan ’n Privaatstudente-organisasie (PSO) te behoort. Die betaal van hierdie fooi is verpligtend, mits die student ingeskryf is vir ’n Magister- of Doktorale-graad of in ’n koshuis is.

 

Koshuisbewoners word egter nie ontsien nie en moet benewens inwoningsgelde ook “huisgelde” van sowat R450 per jaar betaal.


Volgens die Universiteit word dit “aangewend vir die dag-tot-dag funksionering van die koshuise en dek ’n breë spektrum uitgawes wat tot voordeel van koshuisinwoners aangegaan word.”

 

Verblyf in universiteitskoshuise beloop enigiets tussen R2400 en R3000 per maand afhangende van die ligging en of ’n student ’n kamer deel.*

 

Gedurende die jaar is studente geregtig op 258 dae van koshuisverblyf, wat meebring dat die koste-per-dag tussen R110 en R140 is as hulle van al hierdie dae gebruik maak.

 

Etes beloop ’n bykomende gemiddeld van R44 per dag vir drie maaltye. Studente hoef egter nie van die verskafte spysenering by die koshuise gebruik te maak nie.


’n Parkeer-heffing van R88 per maand moet bo-en-behalwe al die ander kostes ook betaal word sou ’n student sy motor op kampus wil parkeer.

 

Studente wat BEd studeer kry ook geen skorting op enige van hierdie kostes nie, al is hulle die hele derde kwartaal nie op kampus nie tydens die praktiese komponent van hul kursus.


Viljoen maak dit wel duidelik dat hierdie feit alreeds ingereken is in die klasgelde wat BEd-studente betaal.

 

Rakende die BEd-studente wat in die universiteit se koshuise woon, sê Viljoen afslag op inwoningsgelde is ongelukkig nie moontlik nie, en dat die reëlings vir die proeftydperk reeds aan die begin van die jaar aan studente deurgegee word.


“Dit is dus hul keuse om van koshuisinwoning vir die jaar gebruik te maak al dan nie.”

 

*Gebaseer op syfers vanuit die Universiteit se amptelike Jaarboek Deel 3: Studentegelde.

No comments:

Post a Comment