Friday 3 October 2014

Sout op die tert en water in die wynglas


Jy kan jouself nie ʼn ander se lewe voorstel voor jy nie ʼn dag in hul skoene spandeer het nie. Petrus Malherbe het onlangs ʼn dag saam ʼn merkwaardige groep Matie-studente spandeer wat besig was om voor te berei vir hul jaarlikse afskeidsdinee.
Sonder dat sy sien wat sy doen, tel Jeanie Rudolph die tafel aan sy poot op en skuif dit stadig na regs. Sy voel-voel agter haar vir die muur en gebruik dié as verwysingsraamwerk om die tafel netjies op sy nuwe plek neer te sit.
Sy tas versigtig met haar hande voor haar om te voel waar die tafel begin en eindig en beweeg  stadig om dit na die oopte. Sy draai terug. 
“Staan dit reg hier?” vra sy aan geeneen spesifiek.
“Wel, Jeanie, nie ek of jy kan nie sien nie, so ons hoop maar so,” kom Rynhardt Kruger se stem van anderkant die vertrek.
“Ag toe nou, ek is seker dis reg,” kap sy terug.
Jeanie is blind. Rynhardt ook. Hulle is albei lede van die Dis-Maties studenteorganisasie wat vanaand hul jaarlikse afskeidsdinee hou.
Dis Donderdagoggend, 25 September, en die VV Saal in die Neelsie is nog ʼn mengelmoes van tafels en stoele wat oral rondstaan. Die tema vir vanaand is “Starry Starry Night” na aanleiding van die lied Vincent deur Don McLean. Dis Willem se gunsteling.
Willem is nog nie hier nie. Hy kom eers twaalf uur saam Sydney om met die middagskof te help.
Dis-Maties hou elke jaar hierdie groot makietie. Sommer om die jaar op ʼn hoë noot af te eindig. Die studente-vereniging word gelei deur Sydney Berrington, self blind, met Willem Kruger as onder-voorsitter.  
Vir 2014 was daar meer as 50 gesiggestremde studente op kampus, met ʼn bykomende 11 wat heeltemal blind is. Dan is daar ook ʼn dosyn dowe studente en naby aan 300 ander met verskillende skryf-, leer- en fisiese-gestremdhede. Baie van hulle is Dis-Maties-lede, maar die organisasie is oop vir enigiemand. Dit wil op ʼn nie-indringende wyse studente bewus maak van die struikelblokke wat gestremde studente elke dag moet oorkom.
Sydney is vanjaar vir die tweede keer die voorsitter van Dis-Maties en is onlangs tot ʼn derde termyn verkies. Blinde-studente domineer die uitvoerende-komitee, maar daar is ook ʼn student met ʼn geamputeerde been en een in ʼn rolstoel.
Sydney verduidelik dat die aand eintlik gaan om bewusmaking.  “Ons wil vir nie-gestremde studente ook die geleentheid gee om ʼn aand in ons skoene te spandeer.”
Daarom kry elke gas vanaand ʼn blinddoek sodra hy of sy die saal binnekom.
“Hulle hoef dit nie die heeltyd te dra nie,” sê sy gou. “Net wanneer ons eet. Dis ʼn lekker manier om bewusmaking oor blinde studente te versprei en dis ʼn baie goeie ysbreker aan tafel.”
“Ons kan nie die gaste doof maak of heelaand in ʼn rolstoel sit nie. Daarom maak ons hulle maar blind vir die aand!”
Maar lank voor vanaand se verrigtinge kan begin, is daar nog heelwat wat gedoen moet word.
Jacques Cilliers, ʼn komiteelid, staan met sy hande op sy heupe en kyk oor die vertrek.
“Dis darem baie swart hier binne,” dink hy hardop.
“Ek het mos in die komiteevergadering gesê dit gaan gebeur!” skree Deane Vertenten. “Maar julle wou mos nie luister nie.”
Jacques is een van die handjievol komitee-lede met geen gestremdheid. Hy is beste vriende met Willem, wat blind is.  
Deane maak dit gou duidelik dat sy net swaksiende is en nie heeltemal blind nie. “Ek het gespot en gesê hulle moet blinde kelners kry vir vanaand sodat ons al die ligte kan afsit en hulle sal steeds in die donker kan werk. My voorstel het platgeval.”
Die idee van “Dinner in the Dark” is nie om die gaste heeltemal te verwar en gehul in donker vir die aand te los nie. “Nee, nee, dit is net wanneer jy eet. Dis om te voel hoe dit voel om aan jou kos te moet vat; om gereeld leë happies te neem en om jou vurk op verkeerde plekke te steek,” verduidelik Bernard Botha, nog ʼn komitee-lid.
Jeanie, Rynhardt en Deane is besig om swart stoeloortreksels oor te trek. Jacques het vroeër opgehou, want hy kon nie meer die frustrasie vat om die komplekse oortreksel oor ʼn plastiekstoel te trek nie.
Al wat Jeanie, Rynhardt en Deane het om mee te werk is ʼn goeie sin van intuïsie. Jeanie voel-voel aan die oortreksel vir enige nate om te weet of dit reg om is. Dan val sy net weg. Die rugkant word eerste oorgetrek waarna sy stadig met haar hande afwaarts beweeg na die grond om die vier stoelpote in te haak. Sy werk duidelik met geduld.
Deane sukkel en skel luidrugtig “Ek kry nie die verdomde ding om reg op te pas nie!” en smyt dit eenkant.
Heelwat later staan ʼn honderd en twintig stoele geklad in swart gereed by tafels bedek met swart tafeldoeke.  Swart blikkies met gaatjies in en ʼn liggie word op elke tafel gesit om ’n sterrenag voor te stel.
Rynhardt staan skielik botstil: “Die saal is regtig verskriklik swart.”
xxxxx
Dis half sewe. Die saal is gereed; kersliggies vervrolik die atmosfeer en die platejoggie speel rustige musiek.
Alles lyk pragtig. Maar Sydney is in ’n toestand.
“Waar is my tafellyste?” skree-vra sy na ’n medekomiteelid wat rondstaan. Sy vroetel aan ’n hoop papiere in haar hand. Die papiere is groter as jou standaard A4 en sonder enige skrif.
Haar vingers voel vinnig oor die braille en sy gooi dit eenkant toe.
“Ek het die tafels opgedeel volgens elke komitee-lid, onthou,” sê sy. “So ek het ’n tafel, Willem jy het een, Jeanie ook en so aan...Weet net wie sit aan jou tafel en kry hulle daar!”
Sydney lyk ietwat oorstelp. Haar kêrel is nog nie hier nie en sonder haar gidshond is dit baie moeilik om in ’n vertrek vol mense rond te beweeg.
Gelukkig het sulke goed ʼn manier om hulself uit te werk en gou sit elke gas.
Grant Jeffries, die seremoniemeester “vir die tweede jaar, I have you know,” verwelkom almal en verduidelik die aand se prosedure.
“Sodra die voorgereg bedien word, is dit blinddoek op! Dieselfde geld vir die hoofgereg. Julle mag nie loer nie. Haal dit asseblief net af as julle dans. Om veiligheidsredes.”

Toe die eerste dis bedien word, sit al die gaste onseker die blinddoek oor hul oë. Die vertrek gaan gitswart en die onsekerheid tree in. “Waar is my vurk?” vra een en tas rond op die tafel. ’n Wynglas val byna om.
Die hoofgereg was nog moeiliker om in die donker te eet. Gevulde hoenderborsies met kapokaartappels sukkel om voel-voel op die eetgerei te beland. “Na vanaand ken ek die smaak van ’n leë vurk,” sê Kyle, een van die gaste aan Sydney se tafel.  
As ’n snaaksigheid begin sommiges die gek te skeer met hul tafelgenote wat nog geblinddoek is. Party gooi sout op die nagereg of ruil wyn om vir water.
“Hierdie is die derde keer wat ons ‘Dinner in the Dark’ hou en elke keer gebeur sulke goed,” vertel Sydney later. “Party mense kan ook nie uithou met die blinddoek nie en kul deur onderdeur te loer.”
Met die amptelike verrigtinge verby, is dit tyd om te dans. Jeanie en Rynhardt is albei ook lede van die Maties Dansvereeniging. Hulle open saam die dansbaan op die maat van Vincent gesing deur Willem wat homself ook op die kitaar begelei. Jeanie en Rynhardt word albei gelei deur ander lede van die dansvereeniging. Spoedig is die dansbaan vol.  
xxxxx
Dis lank na twaalfuur voor die laaste gaste, sommige kaalvoet met ʼn paar hoëhakskoene oor die skouer, die saal verlaat.
Sydney en haar komitee sit moeg maar tevrede en bespreek die aand.
“Volgende jaar maak ons weer so,” sê Jeanie.
“Solank alles net nie weer so deksels swart is nie,” sê Deane.

Die groep begin spontaan te lag. 

No comments:

Post a Comment