Sunday 2 November 2014

Mymeringe oor ’n dorsland


Bekoorlike Sutherland bied dalk die hemel aan sy toeriste, maar wat van die gewone man op straat?
Daar waar sy agter die toonbank staan met haar oorgroottrui opgerol tot by die elmboë, lyk Ingrid Visser vanmiddag besonder afgemat. Haar hare val onversorg oor haar oë en toe sy vir die derde keer vir die man in die hoek ’n brandewyn en coke vat, kon mens sien dis nie meer snaaks nie.
“Eerlikwaar, ek is nou bietjie oor hierdie plek,” sug sy saggies. Haar baas en die eienaar van die Sutherland Hotel sit net neffens, besig om aan sy eie brandy en coke te teug.
“Ek begin nou kyk na iets anders.” ingrid.jpg
Links bo-kant haar kop teen die agterste muur van die kroeg is ’n horlosie waarvan die wyser stadig anti-kloksgewys tik, tik, tik.
Hier op Sutherland staan die tyd nie net stil nie, inteendeel: dit loop terug.
Ingrid het net meer as ’n jaar gelede vanaf Piketberg na die uitgestrekte Karoo-vlaktes getrek om die pos as hotelbestuurder op Sutherland oor te neem. As mens die verveeldheid in haar oë so kyk, kan jy amper nie glo dat dinge dalk erger in Piketberg kon gewees het nie.
“Ag, ek is nog my lewe lank in die hotelbedryf,” vertel sy. “Ek hou daarvan om elke paar jaar na ʼn nuwe plek toe te trek. Ek het voorheen in ʼn hotel in Mosselbaai gewerk.
“Maar ek was al oorsee. My broer bly in Ierland, jy weet,” voeg sy vinnig by.  
“Nou hoe het jy op Sutherland beland?” vra ek.
“Ek het nog altyd van ’n avontuur gehou,” antwoord sy. Dadelik kyk ek uit vir ʼn oogknip om die ironie in haar woorde uit te wys. Haar potblou oë bly egter stip.
“Ek het na Sutherland gekom opsoek na iets anders, maar ek het gou agtergekom ek gaan dit nie hier kry nie.”
Ingrid was nog skaars op die dorp toe sy deur ’n stoere boerevrou as ’n satanis uitgekryt is. Dit was toe sy laasjaar soos ’n heks by ’n Halloween-partytjie op Allerheilige-aand opgedaag het. “Ek het dit afgelag, maar dit wys jou net hoe konserwatief dié boeregemeenskap is.”
Haar stories van Sutherland en sy mense skets ʼn teenstrydige beeld van dit wat jy tussen die glansblaaie van reistydskrifte sien. Vir haar gaan dit nie oor die sterre of die koue nie. Dis eerder ʼn geval van verveelde mense wat verstrengel is in ’n wêreld van stofstrate, niksdoen en mekaar se doen en late.  
Wat kan moontlik so bekoorlik aan Sutherland wees?
Oorkant die hotel sit ou oom Gert Witbooi, volledig geklee in sy beste pak, op die randsteen en verwyl die tyd om deur in die verte te staar na elke motor wat al om die halfuur verby kruip.
Op die voorstoep van die OK Mark (saam met Pep en Standard Bank die enigste herkenbare handelsmerke op die dorp) probeer ’n ander outoppie ’n dooie pofadder aan verbygangers verkwansel vir R10.
Sy plattelandse Afrikaans klink stroperig oor sy tong wat steeds effens hang na gister se wyn.
Die gidsboek mag jou dalk vertel dis die afgesonderdheid wat Sutherland so spesiaal maak. Maar wanneer jy dieper as dit delf, vind mens nie veel meer as ’n kurkdroë oase tussen die Karoo-heuwels nie.
So vertel oom Sampie Koekemoer my toe vanwaar hy in sy motorhuis sit en timmer aan ’n stoel dat die ganse ekonomie van die dorp op drie bene berus: “Boer, toer en drank.”
In sy jaart skop drie van sy kleinseuns ’n bal in die stof rond. IMG_2837.JPG
“Hier is niks om te doen nie,” sug hy en wys met sy wysvinger terug in die rigting van die middedorp. “Daarom sien jy die rye en rye mense buite die drankwinkels op dae soos vandag.”
Buitekant die Sutherland Verbruikers Drankwinkel staan die tou tot verby die randsteen. Twee mans staan en urineer teen ʼn buitemuur en ʼn jong pa stap koponderstebo verby en hou sy baba ongemaklik vas. Binnekant die winkel vlieg die goedkoop wyn van die rakke.
Vir ’n enkele groen noot is die 500ml botteltjie donkergeel wyn joune.  
Die groepie mense wat rondom die drankwinkel rondhang se oë word vaag soos wat die laatmiddagson oor die berge sak.

ʼn Besoek aan Sutherland kan jou koud laat om ʼn heel ander rede as die temperatuur. Die sterre mag dalk bo-kant die uitgespreide vlaktes blink, maar dit skitter beslis nie vir al sy mense nie.   

No comments:

Post a Comment