Hierdie mens dwing die leser tot vernuwende denke oor die sterfproses
Dit is veertien
jaar sedert Wilma Stockenström ’n digbundel vrygestel het. Hierdie gesiene
skrywer, dramaturg en digter lewer deurgaans uitstekende werk en haar nuutste, Hierdie mens, is geen uitsondering nie.
Die oorhoofse
tema in Hierdie mens is beslis die
eenmaligheid van menswees; die vlietende oomblik wat elkeen van ons die aarde
betree en dan gou weer daarvan weggeraap word “tot fossielwordens toe”
(“Ammoniet”).
Op 80 is dit verstaanbaar
dat Stockenström willens en wetens in Hierdie
mens fokus op die einde van ’n lewensiklus. Die dood, verlies en die
natuurlike sirkel van die lewe word deurgaans teen mekaar afgespeel. Die mens
in Hierdie mens is ook nie
verteenwoordigend van ’n enkeling of individu nie. Dit is eerder asof sy daarop
probeer wys dat “hierdie mens” na die spesie as ’n geheel verwys wat tob en
werk op ’n klein planeetjie binne die groter kosmos. Om
te sê Stockenström is hier met die maan gepla is glad nie vergesog nie.
Ten spyte van
die ernstige tema van dood en vergelding is die stem in die digbundel tog lig
en speels; daar is selfs ’n mate van onderlinge satiriese ironie te bespeur.
Dit kom duidelik na vore in “Uitnodiging” waarin die rol van die
begrafnisondernemer in die sterfproses slim mee gespot word:
Daar’s ’n glimlag in sy stem.
Hy sê: kom binne, kom binne,
ons werk nie meer met linne,
dis nou as en beentjies en rook
uit ’n vuur deskundiges gestook
maar steeds vir daar doer bestem.
Dit is asof
Stockenström hier wil sinspeel op die feit dat doodgaan ook maar net ’n
besigheid is. So baie van ons sterf
daagliks; die lewe moet aanbeweeg en ’n volgende sterfling moet verewig word in
die hiernamaals.
Alhoewel die
tema van wat na die dood gebeur nie regtig opvallend in die bundel is nie,
verstaan die leser tog dat Stockenström op ’n eksistensialistiese wyse probeer
sin maak van wat die dood eintlik beteken. Daar heers ’n hunkering by haar dat
die mens in sy dood terugkeer na eenvoudiger dae: na tye van rus en stilte. In
“Eenvoud is koning” roep sy juis “die lot van die hoër soogdier” in sy of haar
dood vaarwel terwille van ’n lewe waarin ’n hy/sy eerder “agteruit, salig,
gewetenloos...kan ontwikkel en vorder”.
In die geheel
gesien is Hierdie mens in die
gelukkige posisie dat Stockenström dit gestroop van pretensieuse taalgebruik
geskryf het. Elke gedig is ekonomies
saamgestel en bereik sy impak kort en kragtig. Sy dra op ’n unieke wyse wyshede
oor oor die aard en die lot van
menswees. Dit sal voorwaar enige liefhebber van dié genre tot dieper
denke dwing.
No comments:
Post a Comment