“Dis nie seks
nie, dis kopulasie tussen goggas...” Die vrese, uitdagings en aard van
toneelspel kom onder die loep in ’n eerlike gesprek tussen Antoinette Kellerman
en Petrus Malherbe.
Sy staar stip na
my met haar potblou oë en kondig ferm aan, net sodat ek weet: hierdie kantoor
is haar persoonlike spasie; haar oase van kalm tussendeur die stormloop
studente en ander verpligtinge. Ek gaan sit aan die oorkant van die lessenaar. Haar handdruk is ferm terwyl sy sê: “Hallo, ek
is Antoinette Kellerman.”
Dit
neem glad nie lank om op jou gemak te raak in die teenwoordigheid van hierdie
teaterlegende en dramadosent nie. Sy gesels met jou soos ’n ou vriend wat
oorgekom het vir ’n koppie koffie. Haar kantoor by die Universiteit van
Stellenbosch se Dramadepartement is bedenklik chaoties. Stapels papiere word
afgewissel met ’n gesonde dosis drama-tekste reg om gelees te word. Die vae
reuk van sigaretrook bevestig haar aanvanklike aankondiging: hierdie is
deur-en-deur háár skuilplek.
Antoinette is een
van Suid-Afrika se mees gesogte en geliefde verhoogaktrises. Dié brawe vrou pak
die gewigtige rolle aan. “Ek soek daardie teatertekste met vleis,” verduidelik
sy. Dis glad nie vreemd as jy haar jaar-na-jaar, kunstefees-na-kunstefees sien
in daardie rolle waaroor daar die meeste gegons word nie. “Ek is nie bang vir
’n uitdaging nie.”
Toneelspeel is in
haar bloed. Nes soos suurstof en teenliggaampies funksioneer sy daarop: “As ek
elke oggend kon gaan repeteer saam ’n geselskap en dit elke dag van my lewe kon
doen, sou ek die gelukkigste mens op aarde wees, want dit is wie ek is. Dit
klink verskriklik dramaties, maar ek sal léég raak as mens; ek sal niks hê as
ek nie kan toneelspeel nie. Dit bly vir my absoluut die lekkerste ding in my
lewe as ek na ’n repetisie toe kan gaan en kreatief kan omgaan saam met ander
mense en ’n teks.”
Tog, na al die jare bly die proses
van ’n nuwe stuk aanpak steeds vir haar uitdagend.
“Dit is die lekkerste
ding in die wêreld, maar die vrees is altyd daar. Min toneelspelers het ’n
oormaat selfvertroue. Jy weet die heeltyd dat jy maklik kan faal. Jy loop altyd
op die cusp – die rand van afval. ’n
Gehoor is ’n vreemde ding: jy weet nooit of die produksie suksesvol gaan wees
en aanvaar gaan word nie. Jy volg jou regisseur, jy volg jou eie instink, jou
eie intellek en hart; jy gee jou deel vir almal betrokke, maar jy is nooit
oortuig van sukses nie.”
![]() |
Antoinette en Gerben saam in Samsa-masjien. Bron: iol.co.za |
Hierdie vrese was
ook daar toe die nuwe Willem Anker teks, Samsa-masjien, amper drie jaar
gelede op haar tafel beland het. “’n Groep van ons het die teks gelees en ek
het baie daarvan gehou, maar ons kon nie befondsing daarvoor kry nie. Twee jaar
het verby gegaan en eers verlede jaar Oktober het ek weer iets gehoor: die teks
is aanvaar om by die KKNK opgevoer te word. Maar ek was moeg. Dit was die einde
van die jaar; ons was ook besig met macbeth.slapeloos [’n Ander
produksie waarby sy ook by die KKNK betrokke was.] en ek het nie geweet of ek albei
sal kan hanteer nie.”
Samsa-masjien is ’n komplekse stuk waarin ’n bejaarde man genaamd Gregor Samsa
gaandeweg ’n hallusinatoriese metamorfose ondervind waarin hy van ’n mens tot
in ’n kriewelende kokkerot verander. Sy vrou, die rol wat Antoinette vertolk,
besluit om saam met haar man op hierdie reis na ’n ander wêreld te gaan.
Antoinette was aanvanklik skepties oor haar rol: “Ek is gek oor die teks, maar
ek het nie kans gesien nie. Ek het gevoel ek kan nie; ek is te oud. Ek weet wat
die teks vra, maar my lýf is te oud.”
Sy was eintlik
terughoudend oor een spesifieke aspek van die Samsa-masjien teks. Die
draaiboek het ’n groot hoeveelheid eksplisiete seks en naaktheid bevat. Beide haar
karakter sowel as dié van Gregor Samsa sou vir ’n beduidende tyd naak op die
verhoog wees.
“Ek wou dit graag
saam met ’n spesifieke akteur doen met wie ek baie gemaklik is – want daar is
sulke intieme oomblikke tussen ons karakters,” sê sy. “Dit het egter nie so
uitgewerk nie.” Gerben Kamper, dosent aan die Universiteit van die Vrystaat,
het uiteindelik die veeleisende rol van Gregor Samsa gekry. Beide Gerben en
Antoinette moes gemaklik met mekaar raak om die seks- en naaktonele oortuigend
te kon oordra.
“Ek het al eenkeer
vantevore saam met Gerben gespeel [in Die Storm]. Ons het vir Jaco [Bouwer,
die regisseur] gevra om ons kans te gee om mekaar beter te leer ken. Ons sal in
ons eie tyd gereed wees en sodra ons is, sal ons daardie finale lyn oorsteek.
Goddank Jaco het verstaan; hy het ons nooit forseer nie.”
Antoinette kyk
skielik ernstig op. “Ek wou dit nie noem nie. Niemand anders het ooit (oor die
naaktonele) geskryf nie. Ons was veronderstel om heeltemal naak te wees in die
sekstonele – ek noem dit kopulasie, want dis nie regtig ’n sekstoneel nie. Dis eerder
kopulasie tussen twee goggas, diere en mense. Dit verskuif die heeltyd. Ek
praat nie graag daaroor nie. Ek en Gerben het byvoorbeeld geweier om onderhoude
toe te staan omdat ons al twee gevoel het dit kan te sensasioneel raak.”
Daar is ’n toneel
in Samsa-masjien waarin Antoinette se karakter haarself sonder ’n draad
klere aan bad. Hoe het sy hierdie toneel geregverdig? “Storie gewys was dit
absoluut noodsaaklik. Dis die rituele afwas van ’n lewe. Dis die ritualistiese
bad; sy was die verlede af, sy was (haar man) af; sy was haarself skóón.
Sy huil op daardie stadium, so sy was haarself eintlik met haar trane.”
Al was dit vreesaanjaend om kaal op
die verhoog te wees, is sy oortuig daarvan die teks kon dit regverdig.
“Naaktheid is net nog ’n kostuum wat jy aantrek. Ek doen dit regtig nie om te
skok nie. Ek doen naaktheid net as die teks dit vereis. So as die dramaturg dit
nie vra nie, dan doen ek dit nie.”
Samsa-masjien
was ’n groot sukses by die afgelope KKNK. Dit is byvoorbeeld in die feeskoerant Krit
beskryf as “iets tussen twee wêrelde”. Dit het ses Kanna-nominasies ontvang,
waaronder een vir beide Antoinette en Gerben vir hulle spel.
Volgende jaar is Antoinette te sien in
’n post-apokaliptiese rolprent met onder andere Charlize Theron en Tom Hardy.
Dit is ’n opvolg van die gewilde Mad Max rolprente uit die 1980’s. “Dit
is my eerste fliek. Dit het sowat twee jaar terug in Namibië geskiet. Ek
vertolk die rol van ’n ou tannie daarin – eintlik ’n ‘desert warrior’.” Sy kan
nie uitgepraat raak oor die ervaring van op ’n filmstel te werk nie. “Daar is
so baie kameras die vader weet. Jy raak mal! Maar hierdie ou granny het haar
eie stunts gedoen.”
Terloops, Charlize Theron se Afrikaans
is glo nog fantasties: “Sy het graag met my en die ander plaaslike crew Afrikaans gepraat. Sy is geensins verwaand nie.”
Die son het stadigaan begin sak soos
wat die namiddag aanbeweeg. Sy sluit haar kantoordeur en kyk sylangs na my: “Jy
weet, ’n mens moet honger wees as jy iets in die lewe wil hê. Moenie terugstaan
nie: vat!” Al is dié boodskap al baie gegee, bly dit steeds net so waar,
so luister maar vir Antoinette: as jy nie gaan waag nie, gaan jy nie wen nie.
En Antoinette is ’n wenner.
No comments:
Post a Comment