![]() |
UDM-logo. Bron: News24 |
Die merkbare afwesigheid van United
Democratic Movement (UDM) plakkate en ander verkiesingsfoefies op Stellenbosch
is daaraan te wyte dat hier nie genoeg swart kiesers is nie.
Dít is volgens Jana Warffemius, die UDM
se media-skakelpersoon, die rede vir die UDM se skynbare afwesigheid hier op
die vooraand van die Mei-verkiesing.
Volgens Warffemius lê die UDM se sterkpunt in
areas waar groter konsentrasies swart kiesers woon, soos die Oos-Kaapse
platteland. “Die UDM is ingestel op die bevordering en behoud van kulturele
waardes. Ons ag die waardes van veral tradisionele groepe hoog.”
In die 2009 verkiesing kon die UDM slegs 0,78%
van die stemme in die Wes-Kaap verower.
Sowat twee weke gelede het die UDM-leier,
Bantu Holomisa, ’n groep tradisionele leiers in Kuilsrivier ontmoet. By hierdie
geleentheid het hy ook met die tradisionele koning van die Khoisan , King
Cardi, vergader. Kwessies soos die bewaring van etniese kulture is bespreek.
Hierdie besoek het deel uitgemaak van ’n groter
politiese strategie waartydens Holomisa ook ’n groep voormalige DA- en ANC-lede wat na
die UDM toe oorgeloop het, amptelik by die UDM verwelkom het.
Die skare by die huis in Kuilsrivier waar
Holomisa gepraat het, het ook sy retoriek oor die onlangse OB-verslag rakende
President Jacob Zuma se Nkandla-woning gehoor. Hy het dit as “’n duidelike
voorbeeld van korrupsie op die hoogste vlak van ons samelewing” beskryf.
Volgens Warffemius is dit egter nie die UDM se
beleid om die vuil wasgoed van ander partye in hul verkiesingsveldtog te
gebruik nie.
Dié aanmaning word gemaak al het die UDM
onlangs ’n strooibiljet in die Oos-Kaap versprei waarop verskeie politieke
partye se skandale in die vorm van ’n strokiesprent uitgebeeld word. Warffemius
bevestig dat die aanbieding doelbewus geteken was, “sodat die ongeletterdes ook
die prentjies kan interpreteer.”
Die UDM se hoeksteen in sy verkiesingsmanifes
is dat die regering meer moet doen vir die gewone mens. “Maar dit beteken nie die
land moet aanhou verval tot ’n welsynstaat nie,” verduidelik Warffemius. “Mense
wat kan werk moet werk en geld verdien binne die kapitalistiese sisteem (waarin
ons is), en diegene wat nie werk nie, moet met groter verantwoordelikheid van staatskant
gehelp word deur middel van volhoubare werkskepping.”
Op Twitter het Holomisa bevestig hy kom voor
die verkiesingsdag Stellenbosch toe, maar dat hy nog onseker is oor die datums.
Warffemius kon ook nie bevestig wanneer sy besoek aan die Eikestad gaan wees
nie.
Hy was wel hierdie Saterdag by die OR Thambo-saal
in Khayelitsha waar hy die UDM se verkiesingsmanifes bespreek het.
No comments:
Post a Comment