Sunday, 18 May 2014

Die niksseggende mymeringe van ’n nie-gelowige


Al die kontroversie tersyde wou Petrus Malherbe ’n eie opinie vorm oor waarom soveel mense elke Sondag na die Shofar-kerk op Stellenbosch stroom.
Hallo.
My naam is Petrus Malherbe en ek is ’n nie-gelowige.
Ten spyte van hoe dit klink, moet daar geensins gedink word dat ek nie in ’n huis van Christelike-waardes grootgeword het nie.
Geloof maak my net ongemaklik. Die idee van ’n God wat oor alles heers, weet wat ek doen en dink elke minuut van elke dag en voorskriftelik tug as ek iets in Sy oë verkeerd doen, staar my nie aan nie.
Daarom is ek al vir tien jaar ’n totaal apatiese, agnostiese aanskouer van geloof. Ek dwing nie my oortuigings af op ander nie. Ek bekyk hulle net van ’n afstand, en wonder gereeld: wat dryf dié mense elke Sondag kerk toe? Wat sien en hoor hulle daar wat hulle so vasgevang hou in gebed en geloof?  
In my soeke na ’n antwoord het ek op ’n pelgrimstog gegaan na die oorsprong van soveel kerklike kontroversie: die immergewilde Shofar-gemeente op Stellenbosch.
“Daar is mag in Sy woord, soos die waters druis Sy stem...”
Soos mens die Bloemhof-sentrum op Stellenbosch nader op ’n Sondag-aand skuins na ses, voel dit amper asof jy na ’n rock-konsert op pad is. Die skares dra net netjieser klere.
Daar is letterlik duisende mense wat op die massiewe saal toesak. Binne sien ek net ’n see van koppe, lywe en arms besig om te sing en te dans. Die Shofar-band weet duidelik hoe om ’n goeie show op te sit.  
Shofar was al meer in die nuus om al die verkeerde redes: aantygings van okkultisme, intimidasie en geldwassery en selfs dat hulle vir Inge Lotz laat vermoor het.
In 2007 het daar ’n herrie op die Stellenbosch Universiteitskampus losgebars toe Die Matie berig het dat sommige dosente die studente waarsku teen Shofar se sogenaamde “breinwassery”. Stories het rondgeloop dat Shofar-lede glo nie-lede indoktrineer om by die kerkgroep aan te sluit en hulle dan dwing om tien persent van hulle inkomste te skenk. Waarna nuwe lede stadigaan van hulle vriende en familie vervreem word en net binne die kerk nuwe vriendskappe en verhoudinge mag aanknoop.
Op hierdie Sondag-aand in 2014 het ek egter nie ’n Shofar-sekte aangetref nie. Daar was nie ritualistiese drag of kerse betrokke nie. Net über-gelowiges: daardie persone wat hande omhoog soos ’n Dervish rond warrel en sing. En die Shofar-band speel aan en aan en melk elke liedjie vir sy maksimum emosionele impak.
“Amen!” klink luid na elke lied op. Ek is beslis buite my gemaksone. Huiwerig begin ek om die woorde saam te neurie; my hande konfronterend oor my borskas gevou.
“Soos die son op die see se blou, so die Rykdom van Sy trou...”
Shofarians sal gou vir jou vertel hulle kerk is nie van die ‘net-elke-Sondag-variant’ nie. “Daar is die gemeenskapsprojekte en die uitbrei van die kerk se boodskap na verskillende landsdele (sogenaamde ‘church planting’), en dan natuurlik ook die reeks seminare en klasse wat jy kan bywoon,” vertel een van my Shofar vriendinne trots.
Dis die middel van die week en ek is by die Shofar-hoofkwartier in die Eikestad-winkelsentrum. ’n Groepie van sowat vyftien gelowiges – en ek – is byeen vir die eerste van drie ‘Encounter’-sessies wat die kerk (teen R10) aanbied om mense se geloof te versterk.
Die atmosfeer is plegtig, gelaai met ’n oordrewe gevoel van blydskap en samesyn. Elke persoon word verwelkom op sy of haar naam (ons moes vooraf bespreek) en daar word vriendelik gratis koffie en tee aangebied.  Ek hou verby.
Soos ek dit verstaan is die ‘Encounter’-sessies veronderstel om ’n inleidende lesing te wees tot geloof met ’n spesifieke fokus op “wat dit beteken om te glo”. Groot was my verbasing toe ek hier eerder ’n inkoherente reeks gesprekke deur gevestigde Shofarians aanhoor waarin daar geholpe probeer verduidelik word dat jou lewe geensins sonder totale oorgawe aan God kan funksioneer nie.
“Daar is ’n leemte in elkeen van ons,” verduidelik Marinette, terwyl sy duidelik met my oogkontak maak, “en ons kort die geestelike inspuiting vir daardie 180° ommeswaai.
“Daarom gee God jou die bonatuurlike vermoë om nee te sê vir daardie goed wat jou uiteindelik gaan verwoes.”
Wat bedoel sy met ‘bonatuurlike’ vermoë?
“Sodra God aan jou hart begin vat, sal jy meer wil begin hê. Dit is sy bonatuurlike liefde.”
Maar ek dog al hierdie mense is alreeds gelowig? Waarom hulle dan oortuig van God se liefde?
Herbie, geklee in ’n modieuse trui en langmoubroek begin ons te paai dat ons alles moet prysgee vir God ten einde ’n gelukkige lewe te kan lei: “Ons uitsluitlike doel moet wees om soos Jesus te wees: arm van vlees, ryk van gees.”
“Kom bly binne my vanaand, Jesus, kom was my skoon!” bid een van die kerkleiers, Sias le Roux, soos wat die verrigtinge tot ’n einde kom.
Hy draai skielik na ’n Wilgenhoffer in die voorste ry en kyk hom stip aan: “Zander, God sê vanaand vir my jy gaan nie lank lewe nie. Jy gaan nie 90 haal nie. Jy gaan ’n kort, gevulde lewe hê, just go with it...” Die knaap se oë rek nie eers nie, hy knik net sy kop tevrede.
“En aan U is die eer en die lof want U regeer...”
Dit is moeilik om ná tien jaar buite die kerk weer terug te keer na ’n gelowige omgewing sonder om inherent partydig te wees. Die doel van my besoek aan Shofar was egter nie om te kyk of ek oortuig kan word om weer te begin gelowig wees nie. Eerder wou ek weet hoe dié kerk sy boodskap oordra.
Tydens my tweede kerkbesoek het die charismatiese Shofar-leier en stigter, Fred May, die preek gelei. Fred is ’n persoon met ’n intense temperament. Sy boodskap word nie soveel oorvertel as oorgeskree nie. Hy maak seker jy hoor hom, én jy glo hom.
Ek het verstom in my stoel gesit en luister hoe hy teen een na die ander organisasie uitvaar as heidene wat daarop ingestel is met die uitsluitlike doel om die Shofar-kerk te verwoes.
“Gee my ’n Amen!” gil Fred. “Amen!” gil die gehoor soos skape agterna.
Fred koester wrokke.  Hy vaar luidkeels uit teen die Universiteit (“The whole program is designed to keep you out of church!”), Harry Potter (“This Harry Potter-generation wants to cast their spell on us!”), die internet (“Out to silent people like us!”), en geheime organisasies en koshuise se inlywings-praktyke (“In Wilgenhof they put you in a coffin, pierce your nipples and strangle you with a noose!”).
Ek vind Fred se preek aanvallend, opswepend en hy is heeltemal te gemaklik om sý weergawe van feite as die absolute waarheid op die groep af te druk. Hy maak die wêreld uit as ’n plek van geen individuele vryheid, waar niemand ’n besluit vir hom- of haarself kan maak nie, want alles is “in teenstelling met die wil van God!”

Toe Fred uiteindelik na ’n twee-uur-lange preek tot bedaring kom, was ek verlig om my oë vir gebed te kon sluit. Vreemd genoeg was dit steeds net die leë donkerte wat na my terugstaar.  Ek was geensins nader om te verstaan wat hier aangaan nie.        

No comments:

Post a Comment