Sunday, 4 May 2014

Die toekoms van die media onder die loep

Dit is belangrik vir die regering om te belê in die diversifisering van die media ten einde die demokrasie van Suid-Afrika te bevorder.
Só meen Mark Weinberg, ’n aktivis van die Right2Know-veldtog wat hulself beywer om media vryheid in Suid-Afrika te behou.
Weinberg het tesame met Johanna van Eeden, redakteur van Volksblad, en Tim du Plessis, uitvoerende redakteur van Afrikaanse nuus by Media24, ’n intieme groep by die Departement Joernalistiek van die Universiteit van Stellenbosch op die vooraand van Nasionale Persvryheidsdag toegespreek.
Die fokus van die gesprek was 20 jaar van mediavryheid binne ’n demokratiese Suid-Afrika.
Weinberg voer aan dat dit die regering se verantwoordelikheid is om te belê in kleiner vorme van media, soos gemeenskapsradio en -koerante, sodat diverse vorme van media tot ’n diverse en florerende demokrasie  kan lei.
“Vandag gaan dit alles oor kommersialisasie,” voeg hy by. “Joernaliste werk vir al hoe minder geld en word stories gevoer deur die groot maatskappye waarvoor hulle werk, wat ʼn monopolie oor die mark het.”
Op ʼn stadium het Weinberg spesifiek verwys na Media24 as voorbeeld van hoe groot media-maatskappye nie behoort op te tree nie.
“Die regering moet sterker mededingingswette in plek stel. Groot maatskappye soos Media24 moet nie toegelaat word om meer as 40% van die mark te beheer nie.”
In ʼn onverwagse wending het Du Plessis saamgestem en gesê dit is nodig om te onthou dat die media in sy huidige formaat nie meer vir lank behoue sal kan bly nie, “want die besigheidsmodel laat dit eenvoudig nie toe nie”. Hy verlaat die einde van die maand sy pos by Media24.
Du Plessis is dit eens dat die toekoms van die media in Suid-Afrika binnekort afhanklik gaan wees van óf staats- óf filantropiese befondsing.
Weinberg het bygevoeg dat die vryheid van die media net behoue sal kan bly as “joernaliste se belange nie verstrengel raak met dié van die maatskappy waarvoor hulle werk nie”.
Volgens Van Eeden is dit verwant aan die kwessie van joernalistieke etiek: “Dit vorm die ruggraat van goeie joernalistiek. Daarom moet etiese gedrag nie as ʼn hindernis gesien word nie, maar eerder as ʼn hulpmiddel in goeie beriggewing ingespan word.”
Du Plessis het herhaal dat Suid-Afrikaanse joernaliste nie te selfvoldaan moet raak met die vryheid wat hulle nou het nie. “Die politieke speelveld is besig om te verander en die regering gee nie meer om oor die publiek se reg om vrye toegang tot inligting nie.”

Daarom moet joernaliste gereed wees om na ander platforms – soos die internet – te verskuif waar die regering nie soveel regulerende mag het nie, meen Weinberg. 

No comments:

Post a Comment