Lank staan net vir ’n leë, bederfde
stembriefie? Wat wou!
Kiesers, hoofsaaklik van die
Universiteit van Stellenbosch, wat gister hulle kruisies by die DF Malan-gedenksentrum
getrek het, was duidelik gereed om seker te maak húl stem word in vanjaar se nasionale verkiesing getel.
Daarom het so baie kiesers met hul
eie penne opgedaag.
Dit is gedoen na gelang van die
gerugte wat landswyd versprei het dat die Onafhanklike verkiesingskommissie
tydens die stemproses penne met “verdwynende ink” aan kiesers gee om hul
kruisies mee te trek. As jy dié penne gebruik verdwyn jou merk na ’n rukkie. Enige
leë stembriefie sal ongeldig wees.
Sowat ’n week gelede het ’n epos onder
Suid-Afrikaners begin sirkuleer waarin ’n ene Bruce Jenkins, glo vanjaar ’n beampte
van die OVK, besluit het om die waarheid oor die penne te openbaar, “want ons
lewe in ’n korrupte wêreld.”
In die ketting-epos maan Jenkins alle
kiesers om hul eie pen te bring om te verseker hul kruisies verdwyn nie. In die
tou buite die DF Malan-gedenksentrum kon etlike kiesers by navrae dadelik hul
pen wys.
Unika Schonken en Maryke Wijma,
beide studente aan die US, het genoem dat hulle nie net bewus geword het van
die moontlike bestaan van die verdwynende ink vanweë die epos wat omgegaan het
nie, maar ook omdat een van hul lektore dit spesifiek aan hulle genoem het.
“Dit is ’n verskillende ding as dit
eers net ’n spam-epos is, maar as jou
dosente sulke goed begin sê dan neem jy dit ernstig op,” het Schonken gesê.
“Dis Afrika dié, wie weet wat om te
verwag?” het ’n ander student Daniel Jansen van Vuuren genoem terwyl hy aan sy
BIC-pen vasklou. “Met hierdie meneer weet ek my kruisie blý op my stembriefie.”
Party kiesers was nie bewus van dié
teorie nie en het inderhaas rondgeskarrel om hul eie skryfding te bekom. “Ek
het nie hiervan geweet nie, maar nou is ek erg bekommerd. Dit is heeltemal
moontlik in ons land,” het Olivia Anthony oor die saak gepeins.
In ’n verklaring laasweek het die
OVK se media-skakelpersoon, Lydia Young, die gerugte as bog afgemaak: “Ons is
nie bewus van enige insidente waar die merk op die stembriefie verdwyn het nie,
so daar is geen rede vir kiesers om hul eie penne na die stemlokaal te bring
nie.”
Liezl Louw van die plaaslike
OVK-kantoor wou nie addisionele kommentaar oor die saak lewer nie.
Dit is nie die eerste verkiesing
waarin gerugte van verdwynende ink gemaak word nie. Tydens die onlangse
verkiesings in Zimbabwe en Egipte is beskuldigings rondgegooi dat sulke penne
vanaf Indië ingevoer is. In die geval van Egipte was dit na bewering meer as
180 000 penne, berig The Witness.
No comments:
Post a Comment