Sunday 2 November 2014

Die dag toe die geboorte ’n begrafnis geword het

Die dood van ’n baba is ’n baie traumatiese ervaring. Des te meer wanneer die dood plaasvind vanweë komplikasies tydens die geboorte. Petrus Malherbe vertel die storie van ’n brawe ma wat ’n halfuur-oue baba aan die dood moes afstaan.
Haar ma het haar altyd gewaarsku: “My kind, mens word nie swanger tot ten minste twee jaar na jou troudag nie.”
Daarom dan het Anziske Kayster gewag presies tot die aand van hul tweede huweliksherdenking voordat sy haar voorbehoedpille eensklaps in die toilet afgespoel het.
“Ek en my man, Kelvin, was só opgewonde. Emosioneel was ons reg vir ons eerste kind gewees.” Skaars ’n maand nadat sy die Pil ophou neem het, was sy swanger.
Die oomblik was omtrent groot en vir die jong getroudes kon die baba se verwagte geboortedatum van middel Februarie 2001 net nie gou genoeg aanbreek nie. Die swangerskap het sonder voorval verloop.
Maar toe kom en gaan die baba se voorgestelde geboortedatum. Anziske was vir ’n volle twee weke net twee sentimeter ontsluit, en hoewel sy en haar ma, ’n verpleegster, alles probeer het, kon hulle nie die geboorteproses natuurlik aan die gang kry nie.  
“My ma het by my kom bly in daardie laaste paar weke en ons het alles probeer om die kraamproses aan die gang te sit. Ek het op my knieë gestaan en lang ure in die bad gelê. Net mooi niks wou gebeur nie.
“Sien, ek en my man kon in daardie tyd nog nie ’n mediese fonds bekostig nie, daarom moes ek na die staatshospitaal toe gaan. Daar doen hulle nie sommer ’n keisersnee buiten in absolute noodgevalle nie. Die baba moes op die natuurlike manier gebore word.
Daar is toe besluit om die kraamproses kunsmatig aan die gang te kry. Op 22 Februarie 2001 is sy in die kraamsaal van die staatshospitaal op Graaff-Reinet ingestoot, vier klein pilletjies toegedien en dadelik in kraam gegaan.
“Die kraampyne was só erg. Die verpleegster het vir my verduidelik wanneer ek moet druk, maar ek het haar nie reg verstaan nie. My huisdokter was daar om die bevalling te doen. Hy skel my toe en sê ek druk verkeerd. ‘Jy druk soos ’n hoender,’ was sy presiese woorde. Hy het gesê ek mors my kraampyne. Dit was nie lekker nie.”
Kort voor lank het onsekerheid begin intree. Hoewel die bevalling twee weke laat was, was Anziske se liggaam steeds nie gereed nie. “My baarmoeder se mond was nog verhard en die baba kon nie daardeur nie. Die dokter moes toe die mond met sy hande oor die baba se kop trek.”
Die een komplikasie het toe skielik op die ander gevolg. Die baba het begin afbeweeg deur die geboortekanaal, maar nie vinnig genoeg nie. “Die dokter gryp toe so ’n suigmasjien (’n ventouse) en probeer die baba daarmee uitsuig, maar die kontrepsie was so voos gebruik hy moes dele daarvan met ’n rekkie bymekaar hou.
“Toe weet ek nie wat gebeur nie, want skielik was alles deurmekaar. Ek kon sien die dokter het erg begin stres.”
Die sekondes het minute geword en steeds was daar geen teken van die baba nie. Die tyd was besig om uit te hardloop en noodgedwonge moes die dokter ’n episiotomie doen. Dit is wanneer die vaginale opening groter gesny word om die baba makliker uit te kry.  
Maar dit was te laat.
Met die baba-dogtertjie uiteindelik van haar ma bevry, was dit gou duidelik alles was nie pluis nie.
“My ma was die heeltyd by my in die kraamsaal. Ek het net gesien sy huil verskriklik. Sy het uitgegaan om my man en skoonma te gaan roep. Net soos hulle die kamer ingekom het, het die babatjie gesterf.”
Anziske se eersteling was skaars ’n halfuur oud.
“Sy het nooit geskree of haar ogies geknip nie. Toe hulle haar wou wegvat, het ek vasgeskop. Hulle het haar toe in ’n handdoek toedraai en vir my aangee. Ek het net haar neusie afgevee en haar ogies toegemaak. Die dokter het verskriklik gehuil. Hy het met sy kop op my bors kom lê.”
So gou as wat dit begin het, was die hele sonderlinge gebeurtenis verby.
“Ek het die hospitaal ingegaan en gedink ek gaan daar uitstap met ’n baba, maar toe gebeur dit nie.”
Familie en vriende wat na Graaff-Reinet gekom het om die blye geleentheid van ’n geboorte te vier, moes skielik bly vir ’n begrafnis.
“Ons het haar Cherié genoem. Dit beteken ‘ons is baie lief vir jou’.
“’n Paar dae na die geboorte het ek gegaan om vir haar kleertjies aan te trek en om haar te was. Dis toe dat ek oplet haar skouers is potblou. My ma het toe so in die wind in gesê die dokter moes seker haar armpie gebreek het toe hy haar probeer uitkry het.”
Haar huisdokter het nooit presies aan haar verduidelik wat daardie dag in Februarie gebeur het nie. Sy het bloot verstaan daar was “komplikasies” tydens die geboorte.
Eers omtrent vyf jaar later het sy toevallig in ’n brief tussen haar huisdokter en ginekoloog gelees dat haar dogtertjie dood is weens ’n geval van skouer distosie (SD).
“Dit was die eerste keer dat ek daarvan gehoor het. Niemand het dié term voorheen aan my verduidelik nie,” vertel Anziske. Tot vandag toe is sy nie heeltemal seker wat SD is of wat dit kon veroorsaak het nie.  
“Eenvoudig gestel is SD wanneer die geboorte van die baba gestuit word kort nadat die koppie gebore word, want die baba se skouers haak binne die baarmoeder aan die pelvis-been vas,” verduidelik Dr. Walter Kuchenbecker, ’n ginekoloog en fertiliteit-spesialis wat deesdae in Nederland spesialiseer.
“Tydens ’n normale bevalling volg die skouers van die baba kort na die kop gebore word. Wanneer dit nie gebeur nie, is dit die eerste teken dat SD dalk gaan voorkom. Die dokter moet dan een van die baba se skouers ontwrig sodat hy of sy kan uitglip.”
“Die dokter het letterlik sekondes om mee te werk. Hipoksie, oftewel ’n tekort aan suurstof, plaas die baba in onmiddellike gevaar,” brei Dr. Saadiqa Allie van die Mowbray Kraamhospitaal, uit.
“As die dokter nie net die skouer kan ontwrig en die baba só uitkry nie, sal hy of sy in uiterste gevalle dan die sleutelbeen en/of die armpie moet breek.”   
Beide Dr. Kuchenbecker en Dr. Allie is dit eens dat SD ’n uiters seldsame verskynsel is. In sy loopbaan van meer as 30 jaar, het Dr. Kuchenbecker dit nog net sowat 25 keer gesien.
Wêreldwyd kom dit by so min as een uit elke 4000 geboortes voor.  “Dis glad nie volop nie,” vertel Dr. Allie. “En dit is ook heeltemal onvoorspelbaar. As dokter is daar feitlik geen waarskuwingstekens dat SD dalk mag gebeur nie.”
Dr. Kuchenbecker spesialiseer spesifiek met vroue wat oorgewig is tydens swangerskap en geboorte. Hy voel sterk daaroor dat daar dalk ’n verbintenis kan wees tussen gewig en SD.
“As die ma oorgewig is, lei dit gewoonlik tot ’n groot baba. Hoe groter die baba is, hoe hoër is die kanse van SD,” volgens hom.  
’n Ander bydraende faktor is ook ’n laat bevalling.
Anziske was ten tye van haar dogtertjie se geboorte oorgewig sowel as verby haar tyd.
“Niemand het my tydens my swangerskap gewaarsku dat om oorgewig te wees dalk ’n bydraende faktor tot  SD kan wees nie. Ek was baie vet en my baba was baie groot. Ek kan soms nie help om myself te blameer nie.”
Volgens Marina Petropulos, die skrywer van die gewilde Baba- en Kindersorghandboek,  is dit geensins ongewoon dat ’n vrou haarself blameer na die dood van ’n kind nie.
“Soos wat ’n swangerskap verloop, vorm die ma ’n spesiale band met haar baba. Sy skep reeds drome en aspirasies vir haar kind soos wat sy die baba voel beweeg, skop en asemhaal. Natuurlik sal die ma verantwoordelikheid teenoor die baba voel.
“Om dan ’n baba te verloor is een van die ergste goed waardeur enige ouer kan gaan. Die ouerpaar kan dalk voel hulle moet met ’n sielkundige gaan praat, maar dis nie noodwendig die antwoord nie.”
Petropulos se raad is eerder dat die man en vrou die gebeurtenis met deernis met mekaar moet bespreek. “Moenie afgesonder van mekaar raak nie. Die man en vrou móét daaroor praat en saam daardeur werk. Hulle moet hul gevoelens aan mekaar openbaar.”
Vandag, amper veertien jaar later, onthou Anziske nog die emosies waardeur sy gegaan het in die maande na haar dogtertjie se dood goed.
“Ek was gebreek. Ek het nie geweet hoe om dit te hanteer nie. Gelukkig was my ma en my man altyd naby.
“Geen sielkundige berading kon my help nie. Ek het met hulle probeer praat, maar ek het net gehuil.”
Vir haar was daar eintlik net een oplossing. Om weer te probeer.
“Ouers wil die leemte vul wat gelaat is na ’n baba gesterf het,” verduidelik Petropulos. “Dit help hulle om emosioneel afstand te doen van die verlies en om weer op die positiewe te fokus.”
Vandag is Anziske die gelukkige ma van twee seuns, onderskeidelik twaalf en vier jaar oud.
“Ek dink nog soms aan my dogtertjie en watter tipe mens sy sou gewees het, maar dit help nie om in die verlede te leef nie. Ek voel ek is ’n baie sterk mens en ek werk self deur my issues.
“Daarom kyk ek vorentoe.”

No comments:

Post a Comment