Monday, 24 March 2014

Gretchen Dietz: die gewer van ware geluk

Die eerste ding wat jy opmerk soos jy die oprit na Gretchen Dietz se woonstel neem, is die ontsettende sterk reuk van ontlasting. Menslike ontlasting. Dit is merkbaar dwarsdeur my toe motorvenster. Die oorsprong van die reuk is nie dadelik duidelik nie. Die spul bosse neffens die oprit mag dalk die skuilplek wees van die onhebbelikheid. My natuurlike nuuskierigheid en die versoeking om daarin te gaan krap word gelukkig presies onderbreek soos wat Gretchen die hek vir my oopmaak.
In teenstelling met die sensoriese oorlading buite, begroet ’n heelwat rustiger toneel my aan die binnekant van haar woonstel in die Berlinka-kompleks in Dorpstraat, Stellenbosch. Soos ’n tipiese studente-woonstel sal ’n mens nou nie eintlik woorde soos “ruim” en “groot” gebruik om dit te beskryf nie; eerder “huislik”, “vriendelik”.
Sy het my gewaarsku dat daar vandag geskarrel gaan word in hierdie klein spasie. Dit is immers môre haar woonstelmaat, Tilly Randle, se 21ste-verjaarsdagpartyjie. En Gretchen het dit op haarself geneem om die verversings voor te berei.
“Ek is mal oor verjaarsdae!” verklaar sy opgewonde. “Ek probeer alles wat ek kan om dit so spesiale dag as moontlik vir iemand te maak. Dit maak altyd die harde werk vooraf die moeite werd.”
Gelukkig vir Tilly kan Gretchen duidelik goed agter die potte en panne werskaf. Die spyskaart word uiteengesit: wortelkoek, cupcakes en klein hoenderpasteitjies.
By my aankoms is Tilly se twee niggies, Polly en Katie, reeds besig om die laaste rondtes te roer van ’n reuse wortelkoekbeslag. Hulle is op besoek vanaf UCT vir dié groot geleentheid.
Tilly is die suster van Gretchen se kêrel, Jack. Dié twee skoonsusters is al van die kom staan af beste vriendinne. Tilly beskryf hoeka vir Gretchen in haar hoogdrawende Zimbabwiese Engels as die “beste moontlike vriend en mens. Sy is so maklik om mee om te gaan; mee te gesels. Ek kon nie vir ’n beter woonstelmaat gewens het nie.”
Op daai noot begin ek die woonstel verder verken. Tekens dat hierdie twee onlangs ingetrek het, is nog  sigbaar. Gordyne kort nog voor die leefarea se venster. Dít ten spyte van die feit dat Gretchen vroeër vanjaar ’n poedelnaak rugbyspeler gesien het in een van die vensters van die Sportakademie wat net agter hulle woonstel is. “Hy het duidelik nie gedink iemand kan hom sien nie.”
Met Polly en Katie se wortelkoek in die oond, begin Gretchen voor te berei aan die klein hoenderpasteitjies. ’n Klaar-gaar hoender word met ’n gelyke hoeveelheid grasie en geweld uitmekaargeruk. Tussendeur begin ek uitvis oor haar verhouding met Jack.
Hulle is reeds twee-en-’n-half-jaar saam. Hy boer naby Elgin. Hy is ook van Zimbabwe. Haar ouers en baie van haar vriende was aanvanklik versigtig en sommige het skaam-skaam gevra: “Is hy wit?” Hierdie grap bly vir haar kostelik wanneer sy vir Jack aan mense noem, want die vraag brand altyd, maar min het die moed om dit reguit te vra.
Hulle het ontmoet tydens ’n bier-pong kompetisie by die huis waarin Jack destyds gewoon het. Liefderik genoem “The ’Nage” –  kort vir “The Orphanage” – ’n plek vir rondloperstudente waar hulle ’n tuiste kon vind: vir nuwe vriendskappe en ’n lekker kuier.
En in daardie tyd het Gretchen nie nee gesê vir ’n lekker kuier nie: “Hel, ek het baie partytjies gehou in my jonger jare. Tipies, ek weet.
“Ek was daardie aand saam ’n ander vriend van my, ook genoem Jack, by “The ’Nage”. Toe ek ‘my’ Jack daar ontmoet, het ek eers halsstarrig gestry dat dit onmoontlik kon wees dat daar twee Jacks by een partytjie kan wees.
“Met die misverstand gelukkig gou opgelos, het ons in kontak gebly; mekaar weer-en-weer by partytjies gesien en naderhand net besluit: what the heck, ons is saam.”
Jack was eers nie ook by die woonstel nie. Hy moes ’n paar takies afhandel voor die partytjie. Toe hy heelwat later daar aankom, stel hy homself skaapagtig voor en besluit daar-en-dan om ’n bietjie te gaan rus. Gretchen laat hom begaan, maar skroom nie om my gou meer oor hulle verhouding te vertel nie. Hulle liefde vir mekaar is duidelik.
Teen hierdie tyd het die voorbereidings al sover gevorder dat die wortelkoek amper klaar versier is. Polly is besig om klein vlaggies uit gekleurde papier te sny waarmee sy uiteindelik die woorde “Happy Birthday Tilly!” as ’n banier oor die koek wil sprei.
Die brokkies hoender word gemeng met ’n verskeidenheid van speserye, uie, sampioene en room. Ek help proe: heeltemal te sout. Ons gooi ’n ruim sopie witwyn by. Perfek. Dis tyd om die deeg uit te rol.
Sy begin te gesels oor haar ouers, Mark en Zyta. “My ma wil graag dink haar naam is Pools. Dit is nie. Alhoewel haar familie van Poland is, is haar naam 100% opgemaak.” Haar pa is ’n besproeiingstegnikus in Nelspruit; haar ma help uit met die familiebesigheid en doen tussendeur naaldwerk. Die familie bly al 23 jaar daar.
Voordat Gretchen en haar broer, Adrian, gebore is, het Zyta ’n tweeling op ses maande verloor. “My ouers het gesukkel om kinders te kry en na ’n vrugbaarheidsbehandeling het my ma swanger geraak. Daar het egter ernstige komplikasies ingetree en sy is inderhaas geopereer. Tydens die operasie het my ma gesterf – letterlik ge-flatline – net om weer deur die dokters bygebring te word.
“Ek kan goed onthou as klein dogtertjie wou ek altyd net by my ma weet of sy vir Jesus gesien het terwyl sy dood was.”
Adrian is sowat ’n jaar later gebore. Hy is verstandelik gestrem. Op 23 is hy in baie opsigte soos ’n kind van sewe. “Om saam met Adrian groot te word was gelyktydig uitdagend en ook wonderlik. Hy het my geleer om altyd ander mense eers beter te verstaan voordat ek hulle veroordeel. Weens die aard van sy gestremdheid moes hy vele kere die renons van ander verdra. Om te sien hoe hy dit hanteer, het my geleer om dit in my eie lewe toe te pas.”
Sy roep ook ander jeurgherinnerine op. Soos die nou band wat sy met haar pa deel as dit kom by hulle liefde vir krieket. “As kind sou ek in die middernagtelike ure op my pa se skoot kruip en saam met hom na ’n regstreekse uitsending van ’n wedstryd uit Australië te kyk. Daai tye was vir my baie spesiaal. Ek bel hom vandag nog na baie wedstryde sodat ons daaroor kan gesels.”
Die laaste paar pasteitjies word in die oond gedruk. My besoek is ook verby. Ek merk dat sy nog net so vrolik is as wat sy was toe sy soveel ure gelede begin kook het. Die entoesiasme het geensins tussen al die moeite deur gesak nie. Sy straal steeds en spring dadelik weg met die cupcakes.
Skielik besef ek iets merkwaardig: miskien gaan hierdie selfversekerde “Harry Potter befokte” vrou  nie eendag vir die Protea-krieketspan kolf nie, beskik sy wel oor ’n heelwat belangriker talent. Gretchen Dietz weet presies wat geluk is en hoe om dit aansteeklik oor te dra aan almal om haar. En in kort is dit ook presies wat sy is en wil wees.  

Foto: Facebook

No comments:

Post a Comment