“Enigeen wat Israel ondersteun,
ondersteun terselfdertyd die massa-onderdrukking van ’n volk.”
Só het die bekende pro-Palestynse vryheidsaktivis
Miko Peled gister gesê tydens in ’n volgepakte toespraak waarin hy grotendeels
by feite probeer hou het.
Peled, ’n self-erkende
“self-hatende Jood”, het by ’n geleentheid op Stellenbosch gepraat oor die
“wrede en konstante onderdrukking van die Palestynse bevolking deur die
regering van Israel.”
Dié toespraak vorm deel van ’n jaarlikse
reeks gebeure gesamentlik genoem die “Israeli Apartheid Week” (IAW) wat tussen
Februarie en Maart in verskeie wêreldlande aangebied word. Die gebeure tydens
die IAW beywer hulself om regeringsmagte te oortuig om grootskaalse boikotte,
nie-investering en sanksies teen die Israelitiese regering in te stel alvorens
“die onregte teen Palestina nie opgehef word nie.”
Die geleentheid op Stellenbosch is
georganiseer deur ’n plaaslike groep pro-Palestynse Stellenbossers en Matie-studente.
Die openingsrede is gelewer deur die bekende Afrikaanse digter en voormalige
Apartheidsstryder Breyten Breytenbach.
Breytenbach was skrikkerig om só ’n
“gewigtige onderwerp” in te lei uit vrees dat hy op mense se tone sou trap. Gevolglik
het hy telkemale die gehoor probeer verseker dat hy ’n “onpartydige opinie” oor
die saak het.
Peled het die verrigtinge sowat ’n
driekwartier laat binnegekom. Aanvanklik het sy toespraak spesifiek gefokus op
die geskiedenis van die Israeliese-Palestynse-konflik van die afgelope sowat 45
jaar.
Hierin het hy verwys daarna dat die
geskiedenis van Israel en Palestina “twee narratiewe is wat diametries teen
mekaar afspeel met geen hoop op balansering,” en ook dat Israel se voorstel van
twee onafhanklike state slegs ’n kodewoord is vir ’n voortsetting van
onderdrukking.
Daar is ook gereeld deur Peled parallelle
getrek tussen die situasie in Israel vandag en wat histories in Suid-Afrika
onder die Apartheidsregime gebeur het. Hy veronderstel die moontlikheid dat die
inwoners van Palestina “net soos die onderdrukte swartmense destyds in
Suid-Afrika moet opstaan teen die minderheidsregering,” en dat hierdie vorm van
omverwerping van die Israeliese-regering selfs meer vreedsaam sal kan verloop
as wat in 1994 in Suid-Afrika die geval was.
’n Oplossing vir die situasie in
Israel is dus moontlik indien die inwoners van Palestina in hulle massas
opstaan teen hul eie onderdrukking.
Hierdie siening is nie deur almal
wat teenwoordig was ondersteun nie. Een so ’n persoon, Gabriele Kuchenbecker,
wat ook die verrigtinge bygewoon het en ’n meer pro-Israelietiese uitkyk het, voel
dat daar eintlik geen werklike oplossing vir die probleem in Israel is nie,
“want solank as wat geloof binne rekening gelaat word, sal daar vyandigheid
wees tussen die betrokke partye. Dit is ’n historiese geskil wat al oor
duisende jare heen dateer. Geen hoeveelheid diplomatiese gesprekvoering sal
hierdie feit kan oorbrug nie.”
Die IAW vind nog tot 16 Maart reg
oor Suid-Afrika plaas.
No comments:
Post a Comment