Wednesday, 23 July 2014

Soos die perd wat dagga gevreet het

Chris Hunsinger is opgewonde oor sy nuwe rol as DA-parlementslid vir die volgende vyf jaar. Hy vertel vir Petrus Malherbe oor die uitdagings wat hom in die gesig staar, hoe hy dit persoonlik sowel as professioneel hanteer, sowel as waar sy politieke aspirasies en drome vandaan kom.
Vanaf sy huis se ruim stoep op die buitewyke van Malmesbury, kan pas-aangestelde DA-parlementslid Chris Hunsinger nie juis die teerpad sien wat wyd oor die Swartland in die rigting van Kaapstad kronkel nie. Maar hy hoef ook nie. Hy weet presies hoe dit loop; elke kontoer en draai ken hy immers, want vir iemand soos hy – wat die sowat 70 kilometer stad toe daagliks heen-en-weer moet aanpak – kan dit nie anders nie.
“Ry is die maklike een! Dis die balansering van familie- en werk-tyd waar die moeilikheid lê. Sien, as politikus verloor jy die aanspraak op jou eie tyd. Jy raak as’t ware die publiek se besitting.”
Ek vra hoe sy vrou, Karen, dit hanteer.
“Moeilik. Vir ons is dit maar ʼn spanpoging. My vrou en familie verstaan hoekom ek so gereeld van die eettafel af moet opstaan en in my kar klim en êrens heen ry. Bloot omdat dit noodsaaklik is op daardie dag. Die telefoonoproep kom in, en dan moet ek weg wees.”
Politiek is Chris se lewe. Hy is alreeds aktief daarby betrokke lank voordat hy opgekommandeer was om diensplig te verrig.
“Dit was die 1980’s gewees. Ná matriek het ek eers gaan studeer.”
Aan Stellenbosch?
“Natuurlik, waar dan anders?” antwoord hy trots.
“In my studentejare het ek betrokke geraak eerstens by die United Democratic Front en later by die Nasionale Demokratiese Beweging.”
Beide hierdie partye was deel van die oorkoepelende anti-apartheidsbeweging van die vroeë 1980’s. Die UDF is destyds deur Alan Boesak begin met ander bekendes soos aartsbiskop Desmond Tutu, Albertina Sisulu en Helen Joseph wat leierskapposisies beklee het.
“Ek het vir Wynand Malan in 1983 gevolg toe hy die Nasionale Demokratiese Beweging begin het. Malan het weggebreek van die heersende Nasionale Party om die NDB te vorm. Ek is toe aangestel as dié party se provinsiale leier van die jeugvleuel.”

ʼn Komplekse reeks gebeure volg en Chris sukkel self om die tydlyn na soveel jaar weer uit te pluis.
“Wag, laat ek nou eers my datums agtermekaar kry. Malan stig toe die NDB, ja. Denis Worrall stig toe die Onafhanklike Party en die twee partye het, tesame met die Progressiewe Federale Party van Colin Eglin deur die loop van die 1980’s polities links van die NP gestaan.”
In 1989 sou hierdie drie partye saamsmelt om uiteindelik die voorganger van vandag se Demokratiese Alliansie, die Demokratiese Party, te vorm. Zach de Beer en Tony Leon het uit die bresse getree as leiers van die DP.
“Maar toe trou ek – jonk, sommer op 21. En die verantwoordelikhede van ʼn getroude lewe kry toe voorkeur, want in daardie jare het jy nie vergoeding gekry as jy net ʼn politikus was nie.”
Chris en Karen is in 1983 getroud. Hulle het twee kinders. Karen is ’n maatskaplike werker.
Tussendeur kinders grootmaak en sy eie bouhandel-besigheid bestuur, het Chris steeds ʼn groot gedeelte aan sy politieke droom afgestaan.
“Dit was soos my stokperdjie. Ek was deurentyd betrokke by die Swartland-munisipaliteit op ʼn wykskomitee-vlak, totdat ek my besigheid verkoop het en ʼn voltydse makelaar geraak het.”
Finansies en finansiële-bestuur is onlosmaaklik deel van Chris. As raadslid van die Swartland-munisipaliteit se Uitvoerende Burgemeesterskomitee sedert 2011, was hy verantwoordelik vir ekonomiese ontwikkeling en finansies. Later het hy as provinsiale voorsitter van SALGA (South African Local Government Association) ook die verantwoordelikheid van munisipale bestuur gedra.
Sy posisie as raadslid het hom die geleentheid gegee om binne die kwessie van ’n jaar van een belangrike posisie binne die DA na die ander te spring. Vir ’n leek soos ek verduidelik Chris op ’n briljante wyse hoe ’n politikus vooruitgang maak nie net in sy loopbaan nie, maar ook binne sy party.
 “Jy moet altyd die metafoor van ’n treinspoor oproep. Die een spoor is die politieke spoor, te wete die funksionering van die politieke party waarin jy is. Op hierdie spoor het jy sekere posisies en strewes. Parallel daaraan loop die spoor van jou loopbaan, die kant waarop jy funksioneer as Raadslid, as Parlementslid. Die uitdaging is om hierdie twee bane te balanseer. Sommige fokus so aan die loopbaan kant, dat hulle nie meer aktief binne die party is nie en dan val hulle uit.
“Elke vyf jaar is ons almal basies weer werkloos. As ons nie gefokus binne die party bly nie, kan ons ons posisies kwyt wees.”

Chris is baie beskeie oor sy prestasies. Die twee bane van sy treinspoor het in die jare 2011-2013 bykans perfek gebalanseerd geloop. Nie net het hy vordering op ’n plaaslike vlak as raadslid gemaak nie, maar binne die DA is hy 2013 gekies om die verkiesingsveldtog te bestuur vir die hele westelike gedeelte van die Wes-Kaap.
“Dit was ontsettend uitdagend gewees,” vertel hy. “Ons het ’n doelwit gestel van 230,000 stemme uit hierdie streek en het uiteindelik 216,000 daarvan gekry.”
Die harde werk en beplanning het op meer as een manier vrugte afgewerp. In dieselfde tyd wat hy die verkiesingsveldtog bestuur het, het Chris die ellelange nominasie-proses deurgemaak om op die DA se parlementêre-kandidatelys te verskyn.
“Die proses is uitmergelend. Jy gaan deur vyf verskillende stadiums van evaluasie. Van aansoekbriewe, onderhoude, tot drie groot eksamens...”
Eksamens? Regtig?
“Ja! Ten minste in die DA skryf ons! Nie so seker van ander partye nie,” lag Chris. “Jy moet die federale en nasionale grondwet van bo tot onder ken, sowel as ’n goeie algemene kennis hê.”
Daarna volg die uitdunne. ’n Totaal van 1434 aansoekers wat die eerste eksamens en onderhoude geslaag het, word afgeskaal tot 340 kandidate: 40 op provinsiale vlak en 300 op nasionale vlak.
 “As jy gelukkig genoeg is om die finale lys van 300 op nasionale vlak te haal, word jy verder gepeper met agt onvoorbereide vrae wat jy voor ’n paneel van die DA se top-bestuur moet beantwoord.”
Chris het uiteindelik 71ste op die DA se finale kandidatelys geëindig. Die DA het 89 parlementêre-setels in die verkiesing gewen.
“Ek moet sê dat ek nogal baie beïndruk was. Nie net met die deursigtigheid van die proses nie, maar nou dat ek in die posisie [van parlementslid] is, sien ek ook watter uitstekende span ons saamgestel het. Daar is ’n enorme verbetering in die kwaliteit van persoon en verteenwoordiging van die deursnee Suid-Afrikaner.”
Ek vra hom uit oor sy eerste week as Parlementslid.
“Dit het so vinnig verbygegaan. Van die eedaflegging totdat ons opgevlieg het Pretoria toe vir die President se inhuldiging. Baie greet and eat, jy weet, nie veel werk nie.”

Ná sewe dae van parlementêre-oriëntasie sal Chris hoor op watter portefeulje hy gaan dien.
Hy hoop om sy stempel verder af te druk in ekonomiese ontwikkeling, “maar ongeag, ek weet hoekom ek daar is. As lid van die DA, is ek ernstig oor die rol wat ons vervul as die opposisie. Ons sien onsself as die beskermers van die demokrasie.

“Daarom voel ek nou skoon soos ’n perd wat dagga gevreet het. Ek kan nie wag om te begin hardloop nie!”

No comments:

Post a Comment