Wednesday, 23 July 2014

Wie se Jeugdag is dit nou eintlik?

Tydens verlede  jaar se Jeugdag-vieringe in Newcastle in KwaZulu-Natal het die voormalige Minister van Kuns en Kultuur, Paul Mashatile, ’n krans gelê op die grafsteen van Siphiwe Zuma, eertydse president van die South African Student Congress.
Siphiwe is in 2002 op die ouderdom van 23 oorlede.
In sy kort toespraak, het Mashatile gesê: “Vandag is ’n belangrike dag waartydens ons gevalle helde uit die struggle soos Siphiwe onthou.”
Dit is sulke woorde wat my soms rooi onder die kraag laat. Ek is seker Siphiwe Zuma was geliefd en belangrik vir sy vriende en familie, maar om hom tydens amptelike Jeugdag-vieringe uit te sonder vir “sy rol tydens die struggle” is blote propaganda.
Jeugdag is veronderstel om die heldhaftige dade van die talle studente wat op 16 Junie 1976 en daarna dood is, te herdenk. Siphiwe was nog nie eers in 1976 gebore nie. Hy was skaars tien jaar oud toe oudpresident Nelson Mandela uit die tronk vrygelaat is.
Hy was net so min deel van die “struggle” as wat ek was.
Waarom onthou ons nie meer die skoolgaande jeug op Jeugdag nie? Waarom het hierdie dag in niks minder ontaard as ’n politieke spreekbuis waar politieke partye nie net fokus op die verkeerde ‘helde’ van die struggle nie, maar ook op die verkeerde ouderdomsgroep?
Politici het duidelik vergeet wat die woord ‘jeug’ beteken. Let bietjie op wie fokus President Jacob Zuma in elke droë Jeugdag-toespraak. Sy pleidooi teen alles van dwelms, gangsterisme tot onmoontlike beloftes van werk, geluk en blydskap vir die “jeug van vandag”, is totaal en al nie gemik op die “jeug van vandag” nie.
Myns insiens is die jeug beslis nie elke Jan Rap en sy maat onder die ouderdom van 30 nie. Op 24 is ek net so min deel van die jeug as my ouma van 83. Op hierdie ouderdom is ons alreeds volwassenes.
Volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal beteken “jeug” die toestand en tydperk van jonk wees; die tydperk tussen puberteit en volwassenheid.
Dus nie jou drie-en-twintigjarige dwelmverslaafde werklose nie.
Daarom wil ek vra: gee Jeugdag terug vir die jeug. Gee dit terug vir die jongmense, die tussen-tien-en-agtienjariges. Gee dit terug vir die kinders van 1976.   
In stede daarvan om massa byeenkomste te reël waar jong volwassenes gemaan word om minder te drink, te rook en te kafoefel, help die land se tieners eerder met daardie goed wat hulle lewens in die nou kan verryk.
Hier dink mens aan alledaagse vaardighede soos hoe om ’n kamera te gebruik of hoe om te swem en vis te vang. Leer kinders perdry. Leer hulle die belangrikheid van oefening, spanbou en gesonde kompetisie.
In stede van massa byeenkomste waar ’n kind gelok word deur ’n bord kos vir ’n dag, help hulle eerder om die nodige vaardighede te bekom om later in hul lewens self te weet hoe om ’n bord kos te voorsien.
Opvoeding kan ’n kind net so ver bring. Om te weet hoe die chemiese samestelling van salpetersuur daarna uitsien is goed en wel, maar wat van vaardighede in menswees?
Benut die naweek rondom Jeugdag beter. Reël werkswinkels waar daar met tieners op ’n persoonlike vlak omgegaan word.
Verduidelik aan tiener seuns en meisies wat die gevolge van seks inhou. Vertel hulle watter veranderinge aan ’n meisie se liggaam plaasvind wanneer sy swanger raak. As hulle die gevolge verstaan, sal dit hulle eerder weerhou daarvan om die dade onverantwoordelik te pleeg.
So volgende keer, in plaas daarvan om die fokus opnuut te laat val op daardie sukkelende jong volwassene in sy twintigs, weet dit: hulle is oud genoeg om vir hulself te sorg.

Kyk eerder weer na die jeug, die ware jeug, en besorg Jeugdag terug aan hulle. Dit is waar die verskil gemaak kan word.  

No comments:

Post a Comment