“Ek voel dosente moet praat in die taal waarin hulle die
gemaklikste is, en as die studente nie verstaan nie, moet daar ’n opsie vir
hulle beskikbaar wees.”
Só meen Anneke van Heerden, ’n student aan die Universiteit
van Stellenbosch, oor die kontroversiële taaldebat wat steeds by hierdie
instansie woed.
“Mense maak die keuse om na ’n Afrikaanssprekende
universiteit te kom, so ek vind dit onnodig dat almal moet dans na die pype van
die minderheid wat nie Afrikaans verstaan nie en alles Engels wil maak.”
As oorbrugging vir die netelige probleem van taalgebruik
binne die klaskamer, het die universiteit in onlangse maande ’n uitgebreide
tolkprogram van stapel gestuur.
Volgens Professor Albert Grundlingh, hoof: Departement
Geskiedenis, is hy ongemaklik met die idee dat iemand in sy klas sit “en soos
’n buikspreker my woorde na-aap.”
Net soos met die destydse implementering van die T-opsie, te
wete die aanbieding van ’n klas in 50% Afrikaans, 50% Engels, word die
tolkprogram nie oral op kampus dieselfde ontvang nie.
Volgens Professor Leon de Stadler, hoof: Universiteit
Stellenbosch Taalsentrum, word die kampus deur ’n baie komplekse taalprobleem
in die gesig gestaar.
“Daarom moet ons ’n vindingryke oplossing vind. Tolking is
bloot een daarvan.”
De Stadler verduidelik dat die Universiteit bewus is daarvan
dat die tolkprogram dalk ’n tydjie sal vat om aan gewoond te raak. Tans word
dit nog net by drie fakulteite ingespan, maar planne is in die pyplyn om dit na
veel meer uit te brei.
Grundlingh voel ’n tolk in sy klaskamer sal ’n steurnis
wees. “Deel van die klas gebeur spontaan. Die dosent maak grappies tussen-deur.
As iemand dit eers gaan moet vertaal en verduidelik, gaan dit wegneem aan die
klas se onmiddellikheid en die rapport tussen student en dosent.”
Hierop sê De Stadler dat dosente daarvan bewus moet wees dat
tolking ’n vennootskap is. “Die dosent en die tolk moet vooraf bespreek hoe die
klas gaan verloop. Dit beteken natuurlik bietjie ekstra voorbereiding en moeite
vir die dosent, maar niks wat die moeite werd is kom vanself nie.”
Internasionale student Matilda Randle glo die tolkprogram
kan baie suksesvol wees. “Ek kan verstaan hoekom Stellenbosch so verbintenis
met Afrikaans het en ek respekteer dit. Daarom dink ek die gebruik van tolke is
die perfekte oplossing. Die dosent kan in sy moedertaal klasgee, en ek kan
alles volg wat gebeur.”
Volgens Luke da Silva, ’n student aan die Regsfakulteit, kan
daar egter moontlike probleme intree met tolking wanneer komplekse terminologie
en konsepte verduidelik moet word. “As die tolk die dosent verkeerd
interpreteer, leer ons dalk ’n hele konsep verkeerd.”
Volgens De Stadler duur die ondersoek na die haalbaarheid
van die tolkprogram voort.
No comments:
Post a Comment