X-Men: Days of
Future Past:
Aksie/Fantasie; Regie: Bryan Singer; Spelers: Hugh Jackman, James McAvoy,
Michael Fassbender, Jennifer Lawrence, Patrick Steward, Ian McKellen;
Ouderdomsbeperking: PG-13 V; Speeltyd: 131 minute.
«««««««««¶
Skaars tien minute
ná die openingstonele van X-Men: Days of Future Past begin daar ʼn besef
by die kyker posvat – in die wyse woorde van Professor Xavier: “This is some
future-shite.”
Dis ʼn glibberige
pad volop duwweltjies wanneer ʼn fliek kies om tussen tydlyne rond te spring. Days
of Future Past vat dit nog ʼn stappie verder. Buiten die tydspronge tussen die hede en verlede,
spring dit ook rond tussen die storielyne van die ses vorige films in hierdie
ongelooflik suksesvolle reeks.
Chronologies is Days
of Future Past gelyktydig ʼn opvolg van 2011 se X-Men: First Class,
sowel as 2006 se X-Men: The Last Stand. Stilisties is dit egter anders as enige van dié
twee voorafgaande toevoegings.
Dis soortvan ’n hibriede kombinasie tussen Inception (storie binne ’n storie) en The Terminator (die toekoms wat met die verlede verstrengel raak),
maar steeds X-Men in hart en siel.
Kortom: dis 2023 en die einde van die wêreld soos ons mutant vriende, Professor
Xavier (Patrick Steward), Magneto (Ian McKellen), Wolverine (Hugh Jackman) en
vele ander dit ken. Die wêreld is oorgeneem deur futuristiese monsters genoem
“Sentinels”.
Ná Mystique (Jennifer Lawrence) ʼn goedbedoelde, maar ernstige oordeelsfout
in die 1970’s begaan, gee dit aan wetenskaplike en mutant-hater Bolivar Trask
(Peter Dinklage) die kans om haar DNS in sy Sentinels te gebruik.
Aangesien Mystique van voorkoms kan verander, beteken dit hierdie monsters
kan nou ook. Trask het hulle geprogrammeer met net een doel: maak alle mutants
dood.
So vanuit die toekoms stuur ouer Xavier en ouer Magneto vir Wolverine terug
na die verlede om jonger Xavier (James McAvoy) en jonger Magneto (Michael
Fassbender) te oorreed om saam vir Mystique te keer. Die twee is mos
aartsvyande, onthou.
Wat volg is ʼn wipwaentjie-rit tussen die hede en die verlede met ou en nuwe
karakters vanuit al die voorafgaande films wat verrassende verskynings maak.
Die regisseur van
die eerste twee X-Men-prente, Bryan Singer, maak ook meer as ʼn dekade
later weer sy buiging agter die lens.
Net soos in X2 maak Singer ook
hier puik van sy spelers gebruik, beide die gevestigde gunstelinge soos
Wolverine en nuwelinge soos Quicksilver (Evan Peters).
Hy weet hoe om die emosionele band tussen die karakters binne die groter
prentjie en tussen die tydlyne deur fyn te balanseer. Ons gee regtig om wat met elkeen gebeur.
Die vermenging van historiese waarhede binne die komplekse storielyn is ook
verfrissend en lekker om na op te let. President Richard Nixon (Mark Camacho)
speel byvoorbeeld ’n sleutelrol in die aksie.
Singer laat die 1970’s weer cool lyk.
In sy weergawe word die verlede ook graag herskryf, soos wanneer ’n reuse
bofbalstadion kaplaks die Withuis omring en Nixon binne vaskeer.
Die film is propvol sulke aksietonele. Dit is baie keer Singer se fyn
aandag aan tydruimtelike detail wat beïndruk en so die spronge tussen tydsones
duideliker aan die kyker maak.
Slotsom: liefhebbers van dié genre, wees gerus. Ongeag
die toekoms of die verlede, die tyd vir X-Men: Days of Future Past is beslis
nou.
No comments:
Post a Comment